|
Anna Kournikova's Smash Court Tennis ***
Die tennis-bom se naam is net bygelas om aandag te trek. Daar is 'n paar mooi foto's van haar in die spel en sy is een van die spelers, maar jy eien haar net aan die vlegsel.
Nes die wonderlike Everybody's Golf is dié spel soos 'n strokiesprent geteken, maar is die aksie baie realisties. Daar is nadele. Jy sien die baan heeltyd van bo die een agterbaan en dit maak die perspektief bedrieglik. Veral aan die begin slaat jou Anna maklik die bal mis, of hol in hom vas en val op haar jis.
Jy kan straat-toernooie speel, of 'n Grand Slam, of vertoonwedstryde op rare bane. Jou beheer oor die speler is alte lomp, maar jy kan byna enige soort hou probeer.
Goed genoeg terwyl ons wag vir die volmaakte tennisspel.
Asterix ***
Die beroemde Asterix-strokies het nogal heelwat grootmens-humor, maar die PlayStation-weergawe is beslis vir kannetjies bedoel. Obelix en Asterix pak die Romeine en soek tien bestanddele vir Getafix se towerdrankie.
Dis 'n strategiespel amper soos Risk. Jy moet die Romeinse provinsies oorneem. Stuur net een meer troep oor die grens as wat hulle het, dan dwarrel die stof en het jy gewen. Dis maar al.
Jy moet ook agt ekstra take voltooi, soos om munte op te tel en Romeine soos 'n diskus te gooi. Die tekeninge is oulik en die stragegiedeel is interessant, maar Asterix is 'n bietjie min pret vir baie geld.
Barbie Super Sports *
Barbie ry op haar sneeubord of skaatse, maar nie voordat jy haar na 'n coool winkel geneem het sodat sy vir haar coool klere kan koop nie. Op die bane versamel sy pienk ballonne en goudstawe waarmee sy nog coool dinge kan gaan koop.
'n Erg onkoel speletjie.
Beatmania **
Mits jy 'n gesonde verbeelding het, kan jy dié een speel en maak asof jy 'n top-platejoggie is. Klein blokkies gly teen die skerm af en wanneer hulle onder kom, moet jy die regte knoppie op die regte tyd druk om 'n stukkie "scratch" of 'n refrein te skep. Dis eenvoudig genoeg totdat die blokkies teen 'n stink spoed begin val.
Terwyl jy doenig is, vorm bont patrone op die hoofskerm op maat van die musiek. Dis oulik, maar eintlik net 'n foefie.
Chase the Express ***
Die blue Harvest is 'n militêre trein wat deur Navo gebou is. Onderweg na Parys met 'n Franse ambassadeur en sy gesin aan boord, word dit gekaap deur Russiese terries wat 'n groot losprys eis.
Jy is Jack Morton, 'n militêre lyfwag wat die aanval oorleef het en nou die ambassadeur moet red, die trein stop en 'n kernramp afweer.
Die treffendste deel van die spel is die klankbaan wat goed genoeg is vir 'n aksiefliek. Die agtergronde is glad geteken, maar die karakters het die gewone plastiek-gesigte en hoekige ledemate. Jack beweeg goed, maar dit neuk om sy wapen te rig. Gelukkig hoef hy nie sy kop te breek oor raaisels nie, want daar is min en hulle is heel eenvoudig.
Die nadeel van 'n spel op 'n trein is dat Jack heeltyd op en af moet hardloop. Gaan haal iets in wa drie, neem dit na wa sestien, gaan terug na wa drie en so aan. Dis regtig 'n pyn, veral as jy vergeet om gereeld te bêre.
Daar is lang videosnitte en minispeletjies waarin jy ander karakters oorneem en ekstra areas verken.
'n Gawe speletjie, maar nie 'n moet nie.
Chocobo Racing ***
Die span agter Final Fantasy het dié ongewone renspel gemaak waarin die held `n kanarie op rolskaatse is.
Die storie-opsie is soos `n opslaanboek wat jou stap vir stap die kontroles leer. Dan kan jy tydtoetse aflê of deelneem aan `n Grand Prix-reeks op vier bane. `n Lekker keuse is die aflos waar jy met `n span van drie deelneem. Voor elke resies kan jy `n spesiale kunsie vir jou jaer kies en op die baan towerstene versamel waarmee jy teenstanders kan toor.
Die jaery is te maklik vir veterane, maar Chocobo sal jong spelers groot pret besorg.
Colin McRae Rally 2 ****
As jy eers een van die horde aangepaste motors gekies en sy vering, ratkas en wat nog alles verstel het, is jy op koers vir een van die vinnigste en mees realistiese renspeletjies nog.
Die kontroles is haarfyn en in die begin gaan jy gereeld van die baan af tol, dus moet jy eenvoudig eers die hantering verstel om jou te pas.
Die nuwe Colin McRae Rally lyk heel anders as sy ouboet - veral wat die grafika betref. Die agtergronde en motors het ryk detail en die weersomstandighede en bane is byna perfek. Die gesonde byklanke maak dit selfs opwindender om die motors tot breekpunt te toets.
Die lekkerste deel is die tydtoetse waarin jy jou vaardigheid kan verbeter voordat jy die groep-opsie aandurf. Daar is ook 'n hindernisbaan waarop jy kan oefen. Die speletjie werk met 'n analoogstok wat dit ewe maklik maak om met handratte of outomaties te jaag.
Die Colin McRae Rally laat beslis sy teenstanders in die stof byt. - Nazeem Saban
Colony Wars: Red Sun ***
Valdemar is nie jou gewone aksieheld nie. Een aand raak hy voor die TV aan die slaap en droom van 'n geheimsinnige kolonel wat vir hom sê hy moet sy werk los en tussen die sterre sy fortuin gaan soek. Hy maak so en terwyl die oorlog tussen die Koloniale Vloot en die "League of True Worlds'' om hom woed, word hy 'n huursoldaat. Sy hoofdoel is om te oorleef en ryk te word en jy moet sy morele besluite vir hom neem.
Dis beter om met die oefenrondes te begin, want dis nogal moeilik om die ruimtetuig te beheer en die blitsige vyande raak te skiet. Gelukkig is die eerste paar sendings nie te veeleisend nie.
As jy eers die kontrole onder die knie het, kan jy jou verdiep in 'n wêreld van vier sonnestelsels wat krioel van ruimtemonsters. Daar is nege ruimteskepe en meer as dertig soorte wapens waaruit jy kan kies en almal kan uitgebou word. Die vyftig sendings - party op vaste grond en ander in die lug - sal jou ook lank besig hou.
Red Sun is nie uniek nie en jy moet goed speel om regtig vordering te maak, maar die hoofsaak is dat jy sal lus wees om aan te hou probeer.
Coolboarders 4 ***
As jy hou van 'n blitsige sneeuplank wat 'n swetterjoel toertjies kan uitvoer, is Coolboarders 4 die soort speletjie waarna jy soek. Dit kos geduld om aan die kontrole gewoond te raak en soms moet jy kombinasies van tot sewe knoppies druk. Maar as jy eers jou voete gevind het, is die aksie vuurwarm.
Daar is 'n horder seksies waaruit jy kan kies en voor elke wedren kan jy soos gewoonlik jou plank en karakter kies. 'n Kragstaaf wys jou wanneer jy genoeg momentum het vir 'n groot sprong, daarom is dit goed om eers die kombinasies deeglik te leer ken.
Dit kos heelwat speeltyd in die spesiale nommers boordat jy die geheime karakters kan ontdek. Een nadeel is dat jy maklik in goeters vasskaats en gou val - bly ver weg van boomtakke...
Met die grafika is daar nie fout nie en van die agtergronde is regtig mooi, maar die klank is power en die musiek baie eenselwig.
Coolboarders 4 bied jou niks danigs nuuts of anders nie, maar dis 'n stewige poging. - Nazeem Saban
Crash Bash ***
Nie 'n speletjie wat jou brein sal ooreis nie. Jy moet jou teenstanders uit 'n ring gooi. Die aksie is in 'n arkade-styl en jy kry pryse vir elke oorwinning op pad boontoe.
Daar is lekker baie geraas en aksie, maar dis ideaal vir jong spelers omdat daar min min bloed en derms is.
Crash Team Racing **
Asof Crash Bandicoot se avonture nie wild en wakker genoeg is nie, is daar nou `n knortjor-spel met al die skepsels uit die gewilde platform-spel.
Jy kies een van ses speelstyle en tot vier spelers kan teen mekaar meeding. Daar is ook agttien bane wat jy ontsluit deur trofee te wen.
Die agtergronde is geteken in mooi ryk kleure en die karre klou goed aan die pad, maar soms is die piekselfoute so erg dat jy letterlik nie kan sien waarheen jy moet ry nie.
Skaflike vermaak, mits jy met die gebreke kan saamleef.
CyberTiger **
As jy gedink het 'n gholfspel met Tiger Woods sal so realisties wees dat jy die gras kan ruik, is jy verkeerd. Die ontwerpers het besluit om eerder die strokies-styl te gebruik wat so goed in Everybody's Golf gewerk het. Maar hulle het ook al die foefies probeer insluit waarvan die ernstige sim-gholfspeler hou -- en dis waar die knoop lê.
Everybody's Golf lyk eenvoudig, maar speel realisties. CyberTiger raak weer te ingewikkeld en is nie so lewensgetrou nie. Boonop is die grafika slordig. Wanneer die bal byvoorbeeld naby die gaatjie kom, sny die kamer na 'n lappie gras met swart daarom.
Op jou eie kan jy beurtspel, houespel en 'n oefenbaan aandurf. Jy kan teen 'n paar mense of video-teenstanders afslaan en dis 'n goeie aanloop tot die toernooi-seksie.
CyberTiger se een aardigheid is dat die spelers ouer word. Jy begin as groentjie in 'n jeugtoernooi en beweeg op na amateur- en beroepsvlak. Namate die speler meer ervare raak, speel hy ook beter.
Beginners gebruik die bekende kragwiel om hul houe te speel. Die meer gevorderde swaai is deksels moeilik en die onrealistiese bal-effekte vererger alles. The bal stop skielik asof die setperke sopnat is en dis byna onmoontlik om 'n perfekte naderhou te slaan.
Tiger doen self kommentaar, maar dis herhalend en die klankmonster vir die skare se gejuig is so kort dat dit kunsmatig klink. CyberTiger het interessante opsies maar tensy jy super-realisme wil hê, is Everybody's Golf 'n beter keuse.
Demolition Racer ****
Deesdae kos dit byna 'n ingenieursgraad om party nuwe speletjies te bemeester, maar n so 'n halfuur met Demolition Racer voel jy reg vir die beroepsliga.
Daar is gewone wedrenne waarin die vinnigste kar wen en stampkar-derby's. Heel ongewoon tel dit nie net hoeveelste jy klaarmaak nie: jy kry ook punte vir die skade wat jy aanrig. Pleks van netjies verby te steek, is dit beter om dwarsdeur 'n teenstander te probeer jaag.
In die liga-afdeling begin jy as 'n groentjie en ontsluit jy nuwe motors en bane deur te wen. Eers is daar net drie motors - die een is vinnig, die tweede hanteer die beste en die derde hou die langste. Die kontrole, byklanke en skade is baie realisties en die metal-klankbaan net reg.
Sal Demolition Racer van jou 'n padvark maak of jou help om van padwoede ontslae te raak? Wie weet. Een ding is seker: dis verslawend.
Destruction Derby Raw ****
'n Nuwe span ontwerpers het die reeks oorgeneem en hom gestroop totdat daar net eenvoudige, brutale pret oorgebly het. Hulle is min gepla met realisme en daar is g'n foefies nie - jy moet fênsie karre verwoes en klaar.
Die seisoen-opsie is die lekkerste. Jy begin as 'n groentjie met 'n beskeie stel wiele. Behaal jy genoeg punte in 'n wedren, ontsluit jy nog bane en motors. Daar is 24 van hulle en 31 bane wat jou 'n hele paar uur sal besig hou. Die motors het elk sy eie nukke, maar gedra hulle almal min of meer dieselfde.
Dis nie genoeg om 'n resies te wen nie, jy moet ander karre vermorsel vir ekstra punte. Elke maneuver het 'n naam wat op die skerm flits wanneer jy hom regkry: "Teeth Rattler" en "Bone Cruncher" is die twee wat jy die gereeldste sien.
Dit help as jy roekeloos is. As jy ooit vinnig punte kort, draai om en jaag reg van voor onder jou teenstanders in. Hou net 'n ogie op jou eie skademeter. As jou kar voor die einde die gees gee, kry jy niks punte nie.
Die bane is slim ontwerp en netjies geteken en daar is 'n gawe terugspeel wat jou die hoogtepunte van jou vertoning wys.
Destruction Derby help jou van stres ontslae raak en is 'n bewys dat minder soms meer is - selfs in die speletjie-wêreld.
Dino Crisis ****
'n Wetenskaplike wat glo dood was, word deur 'n geheime agent op 'n verlate eiland gesien. Vier soldate word gestuur om die man te gaan haal.
Dit neuk nogal, want die mal proffie was besig om dinosourusse te teel wat nou losgebreek het. Nog voordat die openingstoneel verby is, is een van die vier helde klaar heel ingesluk.
Die spanning loop hoog in Dino Crisis. Die spel het slim, maar darem hanteerbare raaisels en lekker foefies. So moet jy byvoorbeeld self gifpyle maak uit bestanddele wat jy langs die pad optel.
Die grafika is so-so. Die toneel is die soort grys, metaalagtige laboratorium wat al in hope speletjies gesien is. Die mensfigure is erg hoekig en beduie met sulke stywe arms wanneer hulle praat - dis half komieklik. Hulle beweeg darem glad en die dinosourusse lyk eg genoeg om jou nagmerries te gee.
Dino Crisis het emmersvol bloed en verminkte lyke: dis nie vir sensitiewe siele of jong spelers nie. Maar as jy oud en taai genoeg is, wag hier 'n groot avontuur op jou.
Ehrgeiz ***
Die nuwe bakleispel spring met mening weg. Die tekeninge en klank in sy openingsnit is verstommend, maar later ontdek jy Ehrgeiz se skoonheid is net veldiep.
Sy arkade-weergawe se bynaam was Final Fantasy Fighter omdat jy teen karakters uit daardie befaamde spel kan veg. Die storie is heel oulik. Ver die toekoms in ontdek iemand 'n ou swaard in 'n Duitse kasteel. Die swaard se naam is Ehrgeiz en die sterkste vegter op aarde moet hom kry. Maar Ehrgeiz is ook die sleutel tot geheime oor biologiese wapens wat in 'n ou tempel begrawe lê. Dis hoekom 'n bende daardie swaard wil hê en jy moet sorg dat hulle hom nie kry nie.
In die storiedeel volg jy 'n argeoloog en sy assistent deur die kelders van die ou tempel wat deur die skurke oopgegrawe is. Die grafika is glad en skouspelagtig. Die standaard-opsie is die een geveg na die ander in interessante arenas en met volle 3D-bewegings.
Fynproewers stry nog oor die beheerstelsel wat hier gebruik word. Jy het net drie knoppies: 'n hoë hou, lae hou of 'n derde wat jou spesiale mag laat werk. Wat gebeur, hang af van die kombinasies wat jy druk.
'n Bonus is die vier mini-speletjies - die oulikste hier is 'n soort Othello waarin jy baklei om die bprd oor te neem.
Nou wat is fout? Wel, ondanks sy styl en grafika is Ehrgeiz net 'n knoppie-karnaval. Gangbaar, maar nie die uitdaging waarna ernstige spelers soek nie.
Everybody's Golf 2 ****
Die eerste uitgawe van die spel het 'n vars bries deur die sport-sim-wêreld gestuur. Die ontwerpers het 'n strokiestyl pleks van super-realisme gekies, maar gesorg dat die spel soos die ware Jakob speel.
Nommer twee is baie dieselfde. Die groot verskil is dat alles vinniger laai en jy gouer verby die opsie-panele by die aksie kan uitkom. In die vroeë fases maak jy maklik 'n volle rondte in 20 min. klaar.
Al die gholf-formate is hier, maar die toernooiseksie is die lekkerste. Hier speel jy as amateur vier toernooie van een rondte elk en probeer genoeg punte insamel om tot semi-professionele vlak en verder te vorder. As jy goed vaar, ontsluit jy ook nuwe karakters en bane.
Met die lang houe is die speletjie vriendeliker as voorheen, maar die setwerk het vreemd genoeg moeiliker geword. Jy sukkel om die helling van die setperke te peil en totdat jy die slag aanleer, beleef jy heelwat tweeset-nagmerries.
Dis die spel se een swakheid. Die ander is die simpel kommentaar en die verspotte handjies wat voor toeskouers verskyn wanneer hulle applous gee.
Nietemin is Everybody's Golf 2 een van die beste videoweergawes van die sport en 'n mens wil gedurig tyd afknyp vir nog 'n rondte.
The FA Premier League Stars ****
Asof daar nie genoeg goeie sokkerspeletjies is waaruit jy kan kies nie, het Electronic Arts pas nog 'n breker vir die rekenaar opgetower. Hy het alles waarvan jy kan droom en nog 'n paar ekstras.
Op die oog af is dit nog 'n nabootsing van FIFA 99, net met nuwe spanne. Toe nie. Die ontwerpers het dit reggekry om op alles te verbeter. Die grafika is heelwat gladder, veral met 'n 3D-kaart, en die spelers meer lewensgetrou danksy ongelooflike detail in die aksie.
Anders as met FIFA, waar jy taamlik maklik doele skiet, moet jy hier jou storie ken. Die verdediging is selfs op die maklike vlak taamlik sterk. Die kontrole is anders as in FIFA, maar maak sin wanneer jy eers daaraan gewoond is. Nietemin sal jy seker beter vaar met 'n speelstok.
'n Nuutjie is dat jy kan besluit hoe hard 'n aangee moet wees en nie die bal te ver mag dribbel nie. Die terugspeel is ongelooflik. Daar is kameras oral en jy kan uit hulle kies om jou doel uit alle hoeke te sien.
Jy kry 'n ster as jy wen en hoe meer jy het, hoe meer kan jy jou spelers se vaardigheid en krag verbeter. Jy kan ook spelers bykoop. Dit maak die spel boeiender omdat jy altyd rede het om te wen.
FA Premier League All Stars is beslis 'n sokkerspel waarna jy gereeld sal terugkom. - Nazeem Saban
FIFA 2000 ****
FIFA 2000 is nie veel anders as sy voorgangers nie, maar sal jou boei al is jy taamlik lou oor sokker. Daar is vier seksies (vertoonwedstryd, toernooi, seisoen, oefen) en drie speelvlakke (amateur, beroeps-, wêreldklas). Die blikbrein speel op elke hoër vlak stukke beter, dus moet jy eerder onder begin en in die oefenkamp jou kopskote en ingooie slyp.
Jy kan uit baie spanne kies en elk het sy eie talente op die verdedigiging en aanval. Die puik animasie vang die gees van 'n regte wedstryd goed vas. Die toeskouers sing en speel ook lekker saam.
Die grafika lyk gladder as tevore in die reeks, die kontrole is sensitief en maklik om te bemeester. Wanneer jy die bal aangee, wys 'n pyltjie duidelik waar spelers buite beeld is. Die kommentaar is puik en maak alles net meer opwindend.
FIFA 2000 is 'n moet vir sokkerslawe. - Nazeem Saban
Ghoul Panic **
Die mense wat die Point Blank-reeks maak, is terug met nog 'n arkade-skietspel. Daar is die gewone galerye waar jy 'n aantal teikens in 'n bepaalde tyd moet tref en weer is dit vrek moeilik om sonder 'n speelstok vinnig genoeg te korrel.
In die avontuur-seksie verken jy 'n spookhuis met 'n mini-speletjie agter elke deur. Die kontroles hiervoor is egter so primitief en lomp dat dit jou gek maak en die pret bederf.
The Grinch ***
Hier is kos vir die kind in jou. Gedra jouself sleg saam met die langbeen-gevaarte wat oral in Whosville moles maak.
Dit begin met die Grinch en Max bo-op Mount Crumpit waar hy goeters bou om die bedaarde Who's mee op te blaas. 'n Skielike windjie waai sy planne weg. Jy moet hulle weer kry en sy ontwerpe bou.
Die vlakke is interaktief en jy kan tussen hulle rondbeweeg terwyl jy dinge bou soos 'n masjien wat vrot eiers gooi, 'n geweer wat slik skiet en 'n Grinch-kopter.
Tussendeur is daar groot pret. Jy slaan sneeumanne plat, krap die pos deurmekaar, bekrap die burgemeester se plakkaat, gooi byekorwe in huise en verbrand Kersbome.
Moenie dat die eenvoudige tekeninge jou flous nie - die speletjie is moeiliker as wat hy lyk en jy moet jou storie ken. Maar dit doen wondere vir jou stresvlak dat jy 750 presente kan vertrap.
Die Grinch se vyande is kinders. As hulle hom 'n drukkie gee, verloor hy van sy krag...
Jy sal The Grinch oor en oor speel en wanneer jy gaan slaap, sal jou pa stilletjies die PlayStation aanskakel. - Sally Jones
International Track and Field 2 ***
Onthou jy nog die ou Olympiese videospel wat op so 'n kassetjie verkoop is? Wat jy hier kry, is basies sy moderne kleinboet.
Nie dat hy klein is nie. Buiten atletieknommers kan jy ook perdespring, swem, duik en gewig-optel probeer. Soos in die ou speletjie slaat jy een knoppie aanhoudend om die atleet te laat hol en 'n ander om hom te laat spring of gooi. Na so 'n uur of wat is jou vingers so lam, jy kan skaars jou koffiebeker optel...
Dis dieselfde ou speletjie, behalwe vir die grafika. Die atlete wil amper soos regte mense lyk en hulle beweeg baie realisties, van die opwarming tot die eindstreep.
Die idee is dat jy deurdring na die eindstryd en dan goud probeer wen. Met 'n spesiale prop kan tot vier vriende mekaar gelyk aandurf.
Al kan jy die atleet se naam en land kies, is daar iets onpersoonliks aan Track and Field en omdat daar geen einde is nie, voel dit soms doelloos. Maar dis lekker afwisseling as jy nie lus het vir nog 'n potjie sneeuplankry nie.
Jackie Chan Stuntmaster **
Die beste ding omtrent die spel is dat die man self baie met die ontwerp gehelp het en 'n klomp van sy tipiese sêgoed vir die klankbaan opgeneem het. Selfs met toe oë sal jy kan raai wie is die ster van dié een.
Dis 'n bonus, maar omtrent al een. Die musiek en byklanke is futloos. Die agtergrond is netjies geteken en het fyn detail, maar die mannetjies lyk asof hulle met 'n stomp skêr uit dik karton geknip is.
Jackie se bewegings is indrukwekkend en flink, maar die kontrole is so losklos dat dit bars om hom vlot te laat loop. Die ware Jackie sal tog nooit in 'n muur vas duiwel of 'n boks mis spring nie.
Dis een vir Jackie se aanhangers en nie noodwendig vir gevegspel-slawe nie.
Jimmy White's Cueball ***
Goeie snoeker en potspel op PlayStation is nogal skaars, maar die nuwe een toon heelwat belofte.
Jy spring weg in 'n portaal en stap na twee speelkamers wat baie eg lyk. Potspel en snoeker is die hoofitems, maar daar is ook mini-speletjies soos dambord, veerpyle, 'n dobbelmasjien en die ou arkadespel Dropzone. Jy kan die speelkamers verken en geheime ontsluit. Of jy kan 'n pot snoeker halfpad los, 'n bietjie potspel gaan speel en terugkom na die snoeker.
Die spel self is heel lekker as jy eers gewoond is aan die hoeke en jy die regte skote begin kies. Kort voor lank wen jy potte soos 'n ware snoeker-skurk.
Daar is nege teenstanders om te klop voordat jy mnr. Warrelwind self kan aandurf. In die begin is daar heelwat frustrasie, want vir elke skoot moet jy 'n horde verstellings maak. Die skerm is vervuil met twaalf aksieknoppies en sewe ander simbole en dit kos kophou om die regte bal na die regte hoek te stuur. Nietemin raak Cueball heel verslawend, veral as twee mense saam speel.
Wees net gewaarsku: as jy hier 'n spel stoor, vreet hy byna jou hele geheuekaart op. - Nazeem Saban
The Jungle Book Groove Party **
Dans saam met Bagheera, Kaa die slang of koning Louie die orangoetang. Die kontrole is eenvoudig, die musiek lewendig en al die bekende karakters is daar - selfs die aasvoëls.
Al wat jy moet doen, is om deur die speletjie te dans totdat jy aan die einde by die meisie van jou drome uitkom. Daar is nie 'n storie nie en daarom sal seker net die heel jongste spelertjies nie gou met Groove Party verveeld raak nie. - Sally Jones
Knockout Kings 2000 ***
Kyk na die handboekie vir Knockout Kings en jy wonder dalk hoe gaan jy ooit al die bewegings onthou, maar kort voor lank laat looi jy met opstoppers en steekhoue soos 'n ware beroepsbokser. 'n Wolkie sweet of bloed wys die hou het seergemaak en stawe vir energie en krag wys of jou man nog vegfiks is.
Die swakheid is die grafika. Die boksers het hoekige lywe, knip hul oë soos akkedisse en slaan gereeld regdeur 'n teenstander. En die bultende kaartmeisies wat tussen rondes paradeer, is plein kommin. Die klankeffekte is goed en die kommentaar skaflik, net herhalend.
Daar is 'n moker-seksie waar g'n reëls geld nie en 'n stel van nege klassieke gevegte waarin jy 'n bokslegende kan speel en die geskiedenis herskryf. Jy kan ook groot name ongeag ouderdom teen mekaar opweeg.
Die loopbaan-seksie is die groot trekpleister. Hier skep jy 'n bokser, laat hom in verskeie gims sweet en baklei dan jou pad teen die ranglys oop.
Knockout Kings is nie volmaak nie, maar beslis genoeg pret.
Kurushi Final **
Die eerste Kurushi was 'n voltreffer en meer as 'n miljoen kopieë is net in Japan verkoop. Dis 'n eenvoudige, maar verslawende raaiselspel waarin jy op 'n platform rondhol en rollende kubusse probeer uitwis voordat hulle jou platloop.
Die vervolg bied 'n effens moeiliker weergawe van sy ouboet, 'n opsie vir twee spelers en die kans om jou eie raaisels te bou. Die res van die foefies dra min by: jy kan uit nege karakters kies en die tekstuur van die blokke verander. Met 'n analoog-kontrole kan jy ook in jou skoene sidder wanneer die blokke jou tref.
Probeer hom net as jy nie die eerste Kurushi gekoop het nie.
Le Mans 24 **
Op die oog af is die speletjie baie soos TOCA. Maar die motors reageer stadig op die kontrole, wat dit bitter moeilik maak om hulle te beheer. Die grafika is baie soos TOCA s'n, maar dit kos oneindige geduld om die motors te leer stuur en beginners sal dalk maklik sommer gou die handdoek ingooi.
As jy aan net die beste renspeletjies gewoond is, sal Le Mans 24 jou frustreer. - Sally Jones
Little Mermaid II ***
Trek jou vinne aan en jy kan saam met Ariel en haar maats gaan skatte jag, teen skurke baklei en geheime ontrafel in 'n nuwe avontuur wat op die fliek met dieselfde naam gegrond is.
Sebastian die krap is jou gids en Flounder jou vriend terwyl jy die seeryk van koning Triton verken. Dis snaaks en prettig en die grafika is puik.
Ariel is nie baie beweeglik nie, maar sy kan heelwat skade aanrig met 'n klap van haar stert. Vir beginners is daar ook 'n stem wat raad gee en wenke op die skerm.
Op elke vlak moet jy spesiale items vind, pêrels bymekaarmaak en skatte jag. 'n Aardigheid is dat Ariel later ouer word en haar dogter, Melody, laat saamspeel.
Soms moet jy 'n haai of monster se kake ontduik, maar die hoofdoel is om die bose seeheks Morgana te verslaan.
Dis te maklik vir veterane, maar 'n lekker opsie vir jong beginners. - Sally Jones
Micro Maniacs ***
As jy nie sy ouboet, Micro Machines, ken nie, gaan dié een jou uit die veld slaan. Dis 'n baie ongewone renspel. Die jaers is klein skepsels wat lyk asof Handy Andy hul grootste vyand moet wees. Die bane is die rand van 'n vol bad, 'n vuil kombuisvloer, blombeddings... As jy van die pad af jaag, verdrink jy dalk in seepbelle of word jy in 'n toilet weggespoel. Hiehie.
Daar is 32 bane wat jy ontsluit in die enkel-opsie. Hulle is saamgegooi in groepe van vier en jy kies een met 'n lastige beheerstelsel waaraan jy eers gewoond moet raak.
Die klein frustrasie is niks teen die stryd om jou renjaertjie op koers te hou nie. As jy 'n ongeluk maak of nie eerste of tweede eindig nie, verloor jy een van drie lewens. Verloor jy al drie, moet jy heel voor begin.
Voor elke resies is daar 'n vinnige kykie na die baan, maar dit help min. Die kans is dat jy lank om daardie bad gaan ploeter voordat jy deurdring na die tweede rondte. Jy kan darem die lewe vir die ander jaers net so goor maak deur hulle met wapens soos laserkanonne en warrelwinde te peper.
Die multispeler-opsie kan van enige partytjie 'n fees maak, maar die solo-spel sal jou dalk net laat gil van frustrasie. 'n Oulike speletjie vir baie, baie geduldige mense.
Millenium Soldier Expendable ***
Die goeie ou dae van arkades herleef met 'n skopskieter wat 'n immergroen treffer kan word mits iemand 'n paar foutjies uitstryk.
Die konsep is eenvoudig. Jy speel 'n soldaat met 'n groot arsenaal wapens en jy moet die planeet van ongeskikte ruimtewesens red. Die landskappe is in volle 3D, die agtergronde vol, ryk kleure en die byklanke sal die bure laat koes. Daar is twintig sendings en ses vlakke, met nog vier wat weggesteek is.
Die swak skakel is die held. Hy is kleinerig en half onduidelik. Soms sukkel jy om te sien na watter kant hy kyk en dis doodsake as jy vinnig moet wegkom van 'n verwoestende ruimtewese. Die valbylvlak vir twee spelers het al die gewone nadele van 'n splitskerm en is nie watwonders nie.
Mits jy nie te veel verwag nie, is Millenium Soldier nietemin 'n paar uur se aandag werd.
Mission: Impossible *
Dit begin belowend met 'n lekker temalied, 'n interessante sending, goeie stemwerk en pittige dialoog. Dan begin jy speel. Die kontroles is verwarrend en vreeslik los. Om iets op te tel of te gebruik, moet jy min of meer net daarin vasloop en dikwels bereik jy 'n doel sonder 'n benul hoe jy dit reggekry het.
Die speletjie het ook vergesogte foefies soos 'n spesiale jel waarmee jy jou gesig presies soos iemand anders s'n kan laat lyk.
'n Groot teleurstelling.
Mr Driller ***
Soms is die eenvoudige speletjies die lekkerste. Dié een draai die Tetris-idee op sy kop vir 'n heel ander soort uitdaging. Pleks dat die blokkies van bo val en jy hulle van onder af beheer, lê Driller se blokkies klaar reg en boor jy van bo af deur hulle ondertoe. Onderweg moet jy lugborrels bymekaarmaak, anders versmoor jy.
Jou mannetjie is 'n oulike kêreltjie met 'n drilboor en 'n paar snaakse bewegings - jy moet sien hoe koes hy as 'n stapel blokke hom amper platgeval het.
In die arkade-deel moet jy tot by 500 m boor. Die moeiliker opsie is 1 000 m. Dis omtrent al. Die ander opsies is 'n valbylspel waarin jy net een lewe het en 'n seksie waar jy die horlosie moet klop.
Dis pret, maar net totdat jy 'n slag gewen het. Dan het Driller jou niks meer te bied nie. G'n ekstra vlakke of bonusse nie. Nada. Dis 'n slim speletjie en baie mooi ontwerp, maar dit sou 'n beter kopie gewees het as een van twee of drie speletjies op 'n skyf.
Monster Rancher ****
Vergeet 'n slag van gewere, bloedplasse en flink vingers en probeer 'n wonderlike strategiespel.
Jy moet 'n monster grootmaak en afrig totdat hy 'n kampioen is. Soos 'n regte troeteldier het elke monster sy kragte en swakhede en kan hulle ook stout wees. Hulle moet van jou hou, anders weier hulle dalk om te veg. En party kroek op die oefenbaan.
Die hoogtepunt is 'n reeks toernooie waaraan net die beste monsters kan deelneem. Op pad boontoe moet jy jou monster voer, laat oefen en laat rus. Hy kan ander uitdaag en só wen jy bonusse soos krediete en geld vir nuwe monsters.
Vir kinders bo sewe is dit 'n lieflike spel, mits hulle kan lees. - Sally Jones
MTV Snowboarding **
Alles wat jy van 'n sneeuplankspel verwag, is hier: 'n resies teen 'n heuwel af, 'n "big air"-seksie, die "half pipe", vyf oop bane en plankryers met amptelike toerusting. Tog kort die spel daardie iets wat die konsole in jou hand laat vassit.
Gesoute spelers sal die toertjies vinnig leer en dan maklik die vlakke deurdraf. Dan bly net die maar wedrenne oor.
Die grafika is skaflik en daar is een aardigheid: 'n park-opsie waarin jy jou eie baan kan bou.
Nie sleg nie, maar ook nie besonders nie.
Mulan **
Dis 'n interaktiewe storieboek, dus moet jy nie veel aksie verwag nie. Al wat jy moet doen, is om vyf tower-perkamente te versamel waarop Mulan se storie vertel word. Tussendeur los jy eenvoudige raaisels op en speel 'n potjie Mahjong of Roep-die-Voorouers.
Die doelwitte is eenvoudig, maar die kontroles is verwarrend en soms is dit nie duidelik wat jy volgende moet doen nie. Aan die einde is daar 'n inkleurboek, 'n saamsinghoekie en die kans om jou eie Mulan-storie te maak.
Aan die dun kant.
B>Moto Racing World Tour ***
Die derde een in die reeks lyk soos sy voorgangers, maar een nuwigheid is dat die aksie op elf regte bane gebeur.
Die kern van die spel is drie kampioenskappe. As jy wen, ontsluit jy nuwe opsies soos kragrenne, 'n ope afdeling en verkeer.
Die prentjies is baie basies en teen volspoed maak jy gereeld nie 'n draai nie omdat jy nie kan sien waarop jy afstuur nie. Die hantering is baie los - net 'n tikkie op 'n knoppie kan jou deur 'n heining laat ploeg.
Dis seker moeiliker om 'n goeie renspel met motorfietse as met motors te maak. En daarom is Moto Racing nie die slegste jaagspeletjie wat bestaan nie.
Muppet Monster Adventure ****
Die Muppets is terug, Miss Piggy inkluis. Die hele lot is in monsters verander en jy is Robin, Kermit se nefie, wat hulle moet red. Daar is taai take wat jy moet verrig om jou genoeg krag te gee sodat jy die skurke kan opfoeter.
Die storie is heel oulik en langs die pad kry jy raad van vriendelike mense. Hoewel jy moet baklei, kos dit kopkrap oor die raaisels en strategie om te vorder.
Muppets RaceMania ***
Dit kon net nog 'n renspeletjie vir kannetjies gewees het, maar die Muppets-mense het hom gelaai met oulike ekstras. Nie net kan jy speel as een van 25 karakters nie (jy moet van hulle eers ontsluit), die 28 bane is ook gegrond op tonele uit Muppet-flieks en daar is videoknipsels tussendeur.
Wat RaceMania nog meer waarde gee, is dat jy twaalf speel-opsies het - van arena tot avontuur - en uit 25 koddige karretjies kan kies. Is Gonzo se Vlieënde Piering nie oulik nie?
Elke kar het sy eie nukke en hulle hanteer heel goed. Die beligting is net flouerig en soms neuk dit om te sien waarheen die baan loop. Jy kan selfs so deurmekaar raak dat jy skielik verkeerde kant toe ry.
Nogtans is Muppets RaceMania 'n lekker volgepakte en plesierige speletjie.
Nightmare Creatures 2 **
As die eerste Nightmare Creatures 'n album was, is dié een net 'n hermengsel. Die bewegings is gladder en die tekeninge het meer detail, maar daar is net nie genoeg vernuwing nie. Die piekselfoute, vlakke wat bokspring en swak beligting help ook nie.
Die storie speel hom af in 1934, 'n eeu nadat Adam Crowley sy monsters in die wêreld losgelaat het. Jy is Wallace, 'n misvormde skepsel wat in die bose wetenskaplike se hospitaal gevange gehou word. In 'n bloedbesmeerde flenterjas en gewapen met 'n byl vaar jy die donker strate in om alles wat nie mens is nie aan stukke te kap. Die uiteindelik doel is om jou vriendin te red en Crowley se doppie te klink.
in 'n spel met min raaisels moet die aksie goed wees. Maar jy looi net die konsole en hoop die zombies slaan neer voordat jy die gees gee. Die onderwater-tonele is nuut, maar pure Lara Croft. En 'n rewolwer is al ekstra wapen waarvoor jy moet uitkyk.
Van Rom Zombie se ou liedjies is by die klankeffekte ingemeng en dra darem by tot die bietjie spanning wat daar is. Maar Nightmare Creatures 2 is ongelukkig 'n teleurstelling.
No Fear Downhill Mountain Biking ****
Die eerste uitgawe van die spel het 'n vars bries deur die sport-simwêreld gestuur. Die ontwerpers het 'n strokiestyl pleks van super-realisme gekies, maar gesorg dat die spel soos die ware Jakob speel.
Nommer twee is baie dieselfde. Die groot verskil is dat alles vinniger laai en jy gouer verby die opsie-panele by die aksie kan uitkom. In die vroeë fases maak jy maklik 'n volle rondte in 20 min. klaar.
Om berg af te jaag met 'n veldfiets moet jy blitsige reflekse hê en jou energie spaarsaam gebruik. In die PlayStation-weergawe van die sport vlieg jy behoorlik teen die hange af.
In die begin kan jy uit ses jaers een kies en dan besluit op watter baan jy wil ry. Vrees is vir die voëls: jou jaer moet koes vir klippe, gate en plante en 'n oog hou op teenstanders wat net so gretig is om eerste die eindstreep te haal.
Die kleinste foutjie kan jou kosbare tyd kos en gewoonlik rem jy net as dit nie anders kan nie. Later in die spel kan jy beter fietse kies en hulle aanpas van die wiele tot by die vering.
Daar is 'n energiemeter wat wys hoe vodde jy is en hoe vinnig jy nog kan trap. Jy moet jou trap, rem en skuins lê ken om die moeilikste bane te tem en jy sal nie glo hoe vinnig die fietse kan ry nie.
Die grafika is heel realisties, die klank goed genoeg en jy kan 'n analoog-stang gebruik. Daar is vyf afdelings, wat 'n interessante uitdaagseksie en 'n toernooi insluit.
Die uitdaag-deel werk nes die enkelrenne, maar jy kan teen 'n vriend meeding. In die toernooi is daar 'n valbylstryd tussen tot vier spelers op 'n baan van jou keuse. Om nuwe klasse en verbeterings te verwerf, moet jy die kampioenskap voltooi -- en ook nie laaste eindig nie.
Downhill Mountain Biking is 'n boeiende weergawe van 'n baie ongewone sport. - Nazeem Saban
PacMan World ***
Die ronde mannetjie se twintigste verjaardag word gevier met 'n platformspel waarin hy sy familie moet red van 'n metaal-monster wat homself die ware PacMan noem.
Dié seksie is maklik genoeg, met lewendige animasie en slim geheime hoekies. 'n Paar basiese raaisels sorg vir ekstra pret en daar is gelukkig min piekselfoute. Verder is daar 'n doolhof-seksie en is die oorspronklike speletjie vir nostalgiese siele ingesluit.
Die laaste twee sal beter werk met 'n speelstok, maar PacMan World is nietemin 'n geslaagde verwerking van 'n goue oue.
PGA European Tour Golf *
Dit begin met stukkies video van Ernie en die manne wat Europa aan die brand speel. Skote, maar dit laat die grinterige teksture van die spel self slegter lyk. Dis seker die lelikste gras waarop jy nog TV-gholf gespeel het.
Die opsies is 'n tweespel, 'n volle toer en foefies soos valstrik-gholf. Jy kan kies uit 62 spelers en 'n magdom houe, maar die kamera raak gereeld betotteld en die "swing-o-meter" sal jou stuk-stuk mal maak.
Een van die swakste gholfsims nog.
Point Blank 2 **
Point Blank is eenvoudig genoeg vir die jongste speler, maar verbrands moeilik om te wen.
Dis 'n skietspeletjie. Met die gewone opsie skiet jy na allerhande teikens en met party moet jy ligweg somme doen of jou geheue inspan. Met die spesiale opsie soek jy 'n verdwaalde prinses terwyl jy jou pad oopskiet deur vier seksies. Twee spelers kan op 'n splitskerm speel, of tot agt kan beurte hê in 'n toernooi.
Dis veerligte pret. Die hoof-irritasie is dat jy baie sukkel om die merker vinnig genoeg tussen die teikens te laat beweeg.
Rally Championship ***
Tydrenne is een van die gewildste motorsporte omdat dit so 'n unieke stryd van mens en masjien teen die natuur is: modder, sneeu, stikdonkerte en wat nog alles. Dit verg byna foutlose bestuurstegniek en Rally Championship vang die gees van die sport perfek vas.
Jy jaag met die motor van jou keuse in tydtoetse en 'n kampioenskap. Selfs op die groentjievlak is dit eers moeilik om die kar te beheer, maar tydrenne is mos nie vir sissies nie.
Met 'n bietjie oefening kan jy later beheers op grondpaaie gly en handrem-draaie maak. Dit moet, anders jaag die ander vir jou weg. Dis jammer daar is nie 'n regte navigator nie: die kommentaar en boodskappe op die skerm vertel jou wat kom.
Enige behoorlike renspel het deesdae mooi agtergronde en die een is geen uitsondering nie. Dis gegrond op die Vauxhall Rally in Wallis en die motors jaag deur geil heuwels en groen woude. Die motors is presiese namaaksels van die ware Jakob en jy kan alles verstel van bande en ratte tot remme en die stuur.
Rally Championship is 'n boeiende spel vir alle ren-verslaafdes. - Andre Kannemeyer
Rally Cross 2 ***
Jy moet jou storie ken om die skerp draaie in dié een baas te raak. En dan jaag jy nog gereeld in obstruksies vas.
Die grafika is die hoogtepunt van die spel, maar die klank is self goed. Dis die ene krakende skokbrekers en krysende metaal.
Jy kan uit ses bane kies, kop-aan-kop jaag en tot drie maats laat saamspeel. Daar is sestien motors en vier trokke om uit te kies, elk met sy eie nukke en spoed.
Beginners salk dalk kwaai sukkel om die motors te beheer en selfs ren-konings sal aan die aksie gewoond moet raak. Die kontrole is so los dat jy keer op keer in 'n draai begin rol.
As jy vasbyt, is Rally Cross 2 egter 'n probeerslag werd. - Nazeem Saban
Rescue Shot ***
Bo is 'n koddige klein hasie wat aan geheuverlies ly nadat 'n paar boelies hom by 'n krans afgegooi het. Nou dwaal hy in 'n vreemde land rond en jy moet hom beskerm.
Die aardigheid is dat jy nie die karaktertjie beheer nie. Jy loop agter hom met 'n geweer en skiet enigiets wat hom kan seermaak terwyl hy vlermuise, vallende rotse en giftige sampioene probeer ontwyk.
Nog vreemder: as jy wil hê hy moet platval om te koes, skiet jy hom in die agterkop. As hy moet spring, skiet jy hom op sy stert. Jy het 'n onbeperkte voorraad koeëls en dis goed om alles te peper, want dinge soos vensters en groot blomme bevat soms bonusse en ekstra lewens.
Rescue Shot is bedoel vir jong spelers. Dit het geen kwaai geweld en nie 'n druppel bloed nie. Dis kleurryk en prettig, hoewel jy die lig-geweer nodig het om regtig goed te speel - met die gewone konsole bars dit soms om jou visier vinnig genoeg rond te skuif.
Resident Evil 3: Nemesis ****
Miskien het Star Wars hulle die idee gegee, want die vervaardigers het besluit die derde been van hul rilreeks moet hom afspeel so 'n paar uur voor die groot slagtiging in deel twee.
Dié keer is dit Jill Valentine wat zombies afmaai in Raccoon City. Daar is meer monsters en binnegoed as tevore, maar tog gee die geweld jou nie sulke kwaai nagmerries nie, wat 'n goeie ding is.
Evil 2 het twee skywe vol gestaan en langer gespeel, maar in Nemesis is daar plekke waar jy 'n keuse moet maak wat bepaal hoe die spel verder verloop. Dit beteken jy kan hom oorspeel en 'n ander einde sien. En wanneer die laaste gogga in sy ongemerkte graf is, is daar 'n mini-spel waarin jy bonusse soos onbeperkte ammunisie kan verwerf. Met die nuwe skietgoed kan jy teruggaan na die hoofspel.
Die kontrole en beheer is soos dit was, maar jy mik nou outomaties en skiet nie sommer mis nie. Nes in Dino Crisis meng jy soorte kruit om gevaarliker koeëls te maak, wat jy beslis teen die supermonsters nodig kry.
Die tekeninge is taamlik gewoon, maar die kleure is besonder lewensgetrou. Met die klank gaan dit minder goed: Jill se klappende hakke is irriterend en die stemwerk is hopeloos.
Nemesis het minder raaisels en is vinnig en aksiebelaai. As 'n speletjie jou laat vergeet om jou geliefkoosde TV-program te kyk, moet hy goed wees.
Resident Evil Survivor ***
Aanhangers van die Resident Evil-reeks verskil kwaai oor die bonussie, 'n skopskieter wat hom ook in Raccoon City afspeel, met die bekende lewende dooies wat jou jag.
Jou karakter oorleef 'n helikopter-ongeluk in die stad, maar ly agterna aan geheueverlies. Hy weet nie wat op hom wag nie (en hy het net 'n pistool by hom) en hy kan nie eens sy naam onthou nie.
Dis 'n oorlewingstryd in die ware sin van die woord en as jy nie lig loop nie, is jou lewe gou oor. Later kry jy ekstra wapens soos 'n geweer en handgranate wat die speelveld effens meer gelyk maak. As jy hulle kan opspoor, is daar ook weer kruie wat 'n man vol zombie-bytplekke heelwat beter sal laat voel.
Daar is 'n maklike en moeilike vlak en jy kan vyf keer weer probeer voordat jy hoef oor te begin. Die pistool laai outomaties, maar reageer stadig op die sneller en dit kos omtrent ses skote om 'n zombie finaal te bêre. Die agtergronde is taamlik spikkelrig en het min aktiewe kolle, dus is daar nie juis raaisels om op te los nie.
Op die ou end is Survivor 'n opsie vir mense wat nie lus het vir die raaisels en komplikasies van die ander speletjies in die Evil-reeks nie. Dis ver van volmaak, maar ook nie tydmors nie.
Roll Cage Stage II ***
Die aardigheid in dié futuristiese renspel is die karretjies wat heeltemal kan omrol en verder ry. Hulle kan ook deur enigiets bars en klou soos geitjies aan tonnelmure. Mits jy net in die rigting van die eindstreep koers hou, kan jy enige kortpad vat.
Dis alles eers effens verwarrend, maar dit sorg vir 'n vet lot pret. Daar is 65 bane en soos jy vorder, raak hulle net vreemder en vreemder. In een van die opsies hang die baan in die lug en as jy van hom afskiet, verdwyn jou karretjie in die niet. Elke motor het 'n spesiale wapen en daar is lawwe opsies soos 'n pot motorsokker met rommel vir 'n bal.
Roll Cage is iets anders en spoedvrate kan hom gerus gaan toetsbestuur.
Shao Lin ***
Die opsies in dié 3D-vegspeletjie is verbysterend. Aan die begin is daar net twee karakters, maar jy kan uit ses vegstyle kies. Hulle verskil baie: jy bemeester dalk die shaolin-styl en kry op jou jis met dronk boks.
In elke styl begin jy as 'n kind op sprinkaanvlak. Jy is in 'n sentrum waar jou gevegskuns bestudeer word en mag nie uitgaan nie omdat 'n gevaarlike bende in aantog is. Terwyl jy op die aanslag wag, kan jy in die sentrum rondsnuffel. Gou loop jy jou vas in 'n ou wat sê "Wat's jou probleem? Gee my jou geld". Dit beteken natuurlik 'n geveg. Die basiese storie is dieselfde in al die style, maar met genoeg afwisseling om jou aandag te hou.
Blykbaar is Shao Lin die eerste vegspeletjie wat agt spelers kan hanteer. Dit kan pret wees, maar die spel is nie foutloos nie. Die kontrole is soms traag en buite die arenas loop jou karakter baie stadig. As jy 'n geveg verloor, kan jy weer probeer. Maar na die tweede mislukking is die spel oor en moet jy van voor af begin.
As jy saam met 'n klomp vriende speel, kan Shao Lin lekker raak. Maar as jy meestal alleen speel, is daar beter opsies.
Rugrats Studio Tour **
Die Rugrats besoek 'n filmateljee, dwaal af en beland in die dekor-skuur waar klein Dil homself per ongeluk in 'n klein kamertjie toesluit. Sy maatjies moet agt sleutels kry om hom te red.
Om die sleutels op te spoor, moet die Rats speletjies met filmtemas speel. Daar is mini-gholf in die Wilde Weste, 'n monsterjag in die ruimte en ballonne wat met melk uit 'n bottel raakgespuit moet word.
Die tekeninge is oulik en die dialoog is snaaks, maar daar wag 'n teleurstelling as jy eers die deur oopkry. Agter hom is net nog 'n deur en sy sleutels is in dieselfde ou speletjies weggesteek.
Niemand kry seer nie en niemand gaan dood nie - as jy 'n spel verloor, kan jy net weer probeer. Daarom is dit ideaal vir jong spelers, maar dis 'n goeie vraag of hulle nie ook hiermee verveeld sal raak nie.
Silent Hill ***
Die beste ding omtrent Silent Hill is dat dit in volledige 3D is met swewende kameras wat byna nooit probleme skep nie. In die speletjie is dit meestal donker of mistig - dikwels 'n truuk om swak tekenwerk weg te steek, maar danksy ongelooflike beligting maak dit die atmosfeer hier nog spookagtiger.
Die held, Harry Mason, is 'n gewone ou met g'n spesiale magte nie. Hy maak 'n ongeluk buite 'n dorpie en wanneer hy bykom, is sy dogter weg. Hy gaan soek haar in Silent Hill, wat verlate en vol gevare is.
Harry het eers net 'n pistool om homself te verdedig teen mal honde, oorgroot vlermuise en dodelike kakkerlakke. Hy soek leidrade en sleutels wat hom na sy dogter kan lei.
Soos die storie vorder, beland Harry in ander dimensies waar die dorp selfs meer skrikwekkend is.
Silent Hill is 'n boeiende raaisel, al is die aksie effens herhalend. Dis ontstellend en beslis nie vir jong spelers nie.
Speed Freaks ***
Juis omdat so baie ontwerpers 'n renspeletjie probeer maak wat werkliker as werklik is, is dit lekker dat iemand 'n ander koers ingeslaan het. Speed Freaks se helde is komieklike strokieskinders met klein knortjorre.
Hulle jaag op twaalf bane. Tydens die resies kan jy wapens in kratte oppik, maar jou teenstanders kan dit ook doen en die wapens teen jou gebruik. Spoedpille, oliekolle, water en lawa maak alles net opwindender. Boonop is daar kortpaaie wat jy kan gebruik as jy hulle kan kry.
As jy verveeld is met die rits eenderse renspeletjies, sal Speed Freaks jou weer voor die PlayStation hou. Dis iets anders - net jammer dis so moeilik om die karretjies te stuur.
The Smurfs ***
Hier by ons sien jy hulle deesdae nogal min, maar die blou mannetjies bly wêreldwyd gewild. Hul strokiesprente is in meer as dertig lande op TV en regoor Europa is daar Smurf-speelgoed te koop.
In dié nuwe platformspel moet Hefty Smurf van sy maats red nadat hulle deur die bose Gorgs ontvoer is. Dis gemik op jong beginners: jy gebruik meestal net twee speelknoppies en word rustig al die gewone die bewegings geleer.
Dan is daar nog die helder kleure, oulike skepsels en spesiale vlakke wat bydra tot smurflekker pret vir klein mensies.
Star Ocean - The Second Story **
Dis die vervolg op 'n rolspel wat net in Japan uitgereik is. Die agtergrondkleure is ryk en helder met skaflike 3D-effekte, maar die karakters is klein, tweedimensionele figuurtjies. Dit lyk net so 16-bit, man. Die dialoog is dikwels lomp en verskyn op die skerm, dus kliek jy jou duime lam deur 'n lang gesprek.
In dié soort spel is die storie hoofsaak. Star Ocean s'n is oorbekend: 'n soldaat uit die toekoms beland op 'n veraf planeet en moet 'n dorpie teen bose magte beskerm.
Los liewer, tensy jy versot is op rolspeletjies.
Street Fighter EX2 Plus ****
Die tweede Street Fighter lyk byna nes sy ouboet, maar hy het 'n paar ekstras om sy getroue aanhangers bly te maak. Die slag is daar 'n skaflike 23 karakters (drie van hulle moet eers ontsluit word) en al die ou gunstelinge uit die dae toe die spel nog 'n arkadetreffer was.
Daar is 'n oefenseksie waarin jy kan duime losmaak voordat jy gaan na die hoofarena, die arkade-afdeling. Hier kies jy 'n karakter en probeer dan die ander een vir een uitslaan. Kry jy dit eindelik reg, is daar 'n paar geheime bonusse wat op jou wag. Al vrot kol hier is dat jy in 'n stadium ook teen jouself te staan kom. Dis soos om teen 'n spieël te baklei.
In die Vs-afdeling kan jy kies teen wie jy wil kragte meet en in die Director-seksie kan jy 'n terugspeel-filmpie maak - selfs die kamerahoeke kies - wat jy kan stoor om later weer te kyk.
Die bonus-speletjie is nogal koddig. Jy moet in 'n beperkte tyd probeer om soveel moontlik rollende balies stukkend te moker. Daar moet iets swaars in die balies wees, want hulle maak 'n kwaai duik in jou gesondheid as hulle oor jou rol.
Die kontrole is heel eenvoudig met 'n knop elk vir drie soorte skoppe en drie soorte houe. Jy kan hulle kombineer vir skouspelagtige aanvalle en elke karakter het ook 'n geheime wapen. Die musiek en klankeffekte is tipies van die soort spel, maar Street Fighter se krag is in sy bewegings. Alles gebeur blitsig en seepglad.
Die vraag is nou of jy dink dis simpel om te baklei teen 'n ou met rubberarms wat jou doer ver kan raakslaan, of 'n meisie met 'n bioniese arm en rollemme wat oor jou ry as sy jou platgeslaan het...
Superbike 2000 ***
Nadat jy 'n halwe leeftyd gewag het vir die spel om te laai, kan jy eindelik jou motorfiets kies. Dan wag jy weer lank voordat die wedren begin. Na dié gedoente verwag jy iets uitsonderliks, maar Superbike kan eenvoudig nie meeding met 'n spel soos Need for Speed nie.
Jy kan kies uit dertien bane, twintig beroepsjaers en ses vervaardigers se motorfietse. Daar is ook statistieke en feite oor die manne en hul masjiene.
Voor die wegspring kan jy alles van vering tot die ratkas verstel. Goed en wel, maar agterna hanteer die fietse nie so glad soos jy sou verwag nie. Hulle draai stram en die ryers kan nie ver genoeg oorleun sodat jy jou draaie kan fyn sny om die voorbokke in te haal nie.
Beginners kan die realisme op 'n laer vlak stel vir iets wat lyk soos 'n arkadespel, maar jou darem 'n beter wenkans gee.
Die speelspoed kon vinniger gewees het. Die grafika is skoon en vinnig - die detail aan die fietse is fyn en die bane is skerp geteken, maar dan is die klank weer nie op peil nie.
Wie ook al lus kry om 'n tweede Superbike te maak, sal hard moet skaaf aan dié een se foute. - Nazeem Saban
Supercross 2000 ***
Supercross 2000 is 'n vinnige veldfiets-spel met 'n verskil. Dit het 'n indrukwekkende ren-seksie waar jy tot tien teenstanders gelyktydig kan aandurf. Daar is ook 'n ope seksie waarin jy kan probeer punte behaal en die skare beïndruk.
Met die eerste oogopslag lyk die jaers en fietse baie goed, maar die bane is grinterig geteken. Dit pla nie as jy eers speel nie, want jy konsentreer te hard op jou spronge en die haarnaald-draaie.
Daar is 'n truspieël-funksie sodat jy die manne agter jou kan dophou. Die jaers hang oor om draaie, die wiele draai en die stof trek.
Voor die wedren kies jy 'n jaer en pas jou fiets aan. Tydens die resies moet jy 'n draai perfek aandurf, anders sien jy jou alie sonder die truspieël. Jou teenstanders raak heel ongeskik en ry graag in mekaar vas. Dan trek daar net jaers deur die lug, maar snaaks genoeg verdwyn 'n ryerlose fiets soms in die niet.
Die kommentaar is pittig en sê heeltyd hoe ver jy voor (of agter) is. Die basiese beheerknoppies is vir petrol, rem, koppelaar (as jy wil) en rigting. Die spyskaarte laai stadig, maar niks sloer as jy eers jaag nie. Jy kan jou seges bêre, wat een of twee geheueblokke kos.
Supercross 2000 is natuurlik net een van vele motorfiets-speletjies, maar hy sal jou nie teleurstel nie. - Nazeem Saban
Syphon Filter 2 ***
Die tweede Syphon Filter is amper 'n kombinasie van Metal Gear Solid en Tomb Raider. Jy is Gabe Logan, 'n lid van Die Agentskap wat moet keer dat die dodelike Syphon Filter-virus in die hande van terries beland.
Die aksie begin waar die eerste speletjie opgehou het. Jou vliegtuig word uit die lug geblaas en jy spring met 'n valskerm tot op 'n berghang vol soldate. Van daar af hol jy jou tande los en skiet dat dit kraak om jou doelwitte te bereik.
Verder in die spel kan jy ook speel as Liam, Gabe se handlanger, wat met die virus besmet is. Jy moet 'n teenmiddel kry om haar te red.
'n Oulike nuutjie is dat jy by spesiale plekke kan bêre en nie soos in die eerste spel moet oorleef tot aan die einde van 'n vlak nie. Daar is ook 'n uitklop-opsie vir twee spelers.
Al het hy baie ekstras, is Syphon Filter 2 nie so goed soos sy ouboet nie. Dis pret, maar dis ou nuus en die grafika het nie verander nie. - Nazeem Saban
Tarzan ***
Tarzan is 'n basiese "sidescroller" met al die gewone ekstras, maar sy gepoleerde ontwerp maak hom beter as baie van sy mededingers.
Die prentjies en stemme kom reg uit die fliek, dus sal aanhangers dadelik tuis voel. Jy begin as klein Tarzan en leer rustig nuwe toertjies by 'n harige vriendjie wat jou gereeld kom wenke gee. Slegte diere gooi jy met vrugte - onthou net om 'n ogie te hou op groot voëls wat kokosneute op jou kop gooi. Die bewegings is seepglad en vinnig en die spel bêre gereeld.
Een van die beste fliek-baseerde speletjies tot dusver.
Team Buddies ***
Op 'n dag val daar 'n magdom kratte uit 'n donker wolk op die Buddies. Die kratte is vol wapens en skielik raak die mannetjies, wat soos halwe kapsules lyk, erg veglustig. Hulle blaas mekaar aan stukke met ysgewere, handgranate, tenks en bomwerpers.
Jy lei vier Buddies en probeer die grootste en beste wapens bou sodat jy die meeste skade kan aanrig. Dit doen jy deur kratte opmekaar te stapel. 'n Hoop van agt rooi kratte gee jou 'n tenk en so aan. Met blou kratte maak jy Buddies - van 'n gewone model tot 'n super-pêl met laser-oë.
Jy beheer een Buddy op 'n keer, maar kan die ander solank in die werk steek. Daar is 32 arenas in agt wêrelde, elk met sy eie probleme soos oorvriendelike varke of kwaai ramme. Soos die taal is die tekeninge sterk gekleur.
Dit kos 'n spesifieke soort humorsin om dié een te geniet - probeer eers voordat jy koop.
Tetris **
Dié oulike weergawe van 'n immergroen spel sal jong spelers vermaak, maar Tetris-meesters frustreer omdat dit taamlik maklik is en geen hoër vlakke het nie.
Met die storie-opsie is daar 'n eenvoudige verhaaltjie oor Donald Duck, Mickey Mouse en 'n paar ander Disney-skepsels wat vir groot Pete aandurf.
Jy kan die storie oorslaan en een van drie ander opsies kies, maar dit sal jou nie veel langer besig hou nie.
The World Is Not Enough ***
Hier's jou kans om jou lyf super-spioen te hou as James Bond in 'n avontuur wat baie van jou verg: strategie, flink voete en 'n vinnige snellervinger.
Voor elke vlak vertel M in sy rasperstem vir jou wat wag terwyl R (die nuwe hoof van Q se tegniese afdeling) vir jou apparate gee wat die taak makliker maak.
Die vlakke hou streng by die fliek. Jy moet weet jy gaan een oomblik nog op die Alpe ski en die volgende kaart speel in 'n casino. Dis interessant, want jy moet speel sonder enige truuks. Jou teiken is 'n wins van 100 000 dollars. As jy aanhou speel, kan jy die casino bankrot maak mits hulle jou nie vooraf uitskop nie.
Jy moet slim en geslepe wees om te vorder, maar breinkrag is darem nie jou enigste wapen nie. Bond gebruik ook daardie spesiale lisensie van hom. Hy is tot die tande toe gewapen en sy arsenaal het alles van die gewone ou Wolfram P2K tot veel kragtiger speelgoed later. Verder haal hy slim truuks uit met gewone dinge soos kredietkaarte en selfone.
As jy hou van Bond en avontuur, sal jy dié netjiese speletjie geniet. Die grafika lyk effens outyds, maar daar is genoeg uitdagings om selfs veterane op hul tone te hou. - Sally Jones
This Is Football ****
Sony het dit hier reggekry om die sport met puik tekenwerk en 'n baie realistiese atmosfeer perfek vas te vang.
Die spelers beweeg seepglad en jy raak maklik aan die kontrole gewoond. Tot agt mense kan gelyk of as afsonderlike spanne in 'n toernooi speel. Jy kan jou eie spelers maak, hulle unieke haarstyle en klere gee en jou eie span stoor. Die byklanke maak alles meer dramaties, veral wanneer die skare juig of die kommentator iets snaaks sê.
Dis goed om eers in die oefenkamp aan die kontrole gewoond te raak voordat jy 'n toernooi aandurf. Spesiale bewegings en blokwerk is die moeilikste. Maar as jy hulle onder die knie het, kan jy enige van die gestoorde spanne aandurf. Dit kos selfs meer oefening om doele te skop, maar jy kan die stadige terugspeel selfs bêre sodat jy later by vriende kan spog. Opsies soos die weer, spoed van die spel en kamerahoeke kan ook gestoor word.
Daar is drie vlakke, wat beteken van beginners tot veterane kan die spel geniet. Jy kan pryse wen en sowaar jou bekers in 'n spesiale vertoonkas uitstal.
Moenie dié een misloop nie. - Nazeem Saban
TOCA World Touring Cars ***
As jy van renspeletjies hou en al 'n paar deurgedraf het, sal jy saamstem dat World Touring Cars een van die bestes is. Dis 'n taai uitdaging met strawwe wedrenne en dit kos uithou en vaardigheid om die kampioen te word.
Die wedrenne raak ál moeiliker hoe verder jy vorder deur die nasionale en internasionale reekse en op die ou end die wêreldreeks. Jy sal volgens jou talent genooi word om lid van 'n renspan te word en dan moet jy uithaal en wys, of hulle skop jou weer uit.
Die kontroles werk goed, die grafika is realisties en beter as vantevore en daar is kommentaar wat jou vertel wat alles gebeur. Skakel liewer die opsie vir meganiese skade af, anders is die kans goed dat jy met 'n rokende enjin langs die baan bly staan.
Geduld is die wagwoord in Word Touring Cars. Maar as jy hom eers onder die knie het, is dit groot pret.
Tombi! 2 ***
Die nare varke is terug en hulle het Tombi se vriendin ontvoer. Saam met sy vlieënde helper, Zippo, gaan hy haar red.
Soos sy ouboet is Tombi 2 'n ongewone mengsel van platform en rolspeletjie. Tombi ontmoet verskeie mense. Hy kan met hulle gesels en elkeen het 'n probleempie waarmee hy kan help.
Hy loop soos 'n ware platformheld op 'n vaste paadjie, maar die agtergrond is slim geteken om na 3D te lyk. Lyk goed, dis net frustrerend wanneer jy wil kortpad kies en ontdek jy kan nie.
Tog 'n oulike speletjie wat maklik genoeg vir jong latte is.
Tomb Raider - The Final Revelation ***
Aanhangers was teleurgesteld met die derde Tom Raider omdat dit na hul smaak te min avontuur en te veel aksie gehad het.
Wonder wat sê hulle nou. Die uitdaging in The Final Revelation is nie om die raaisels op te los nie, maar om in beheer te bly van Lara Croft. Pleks van ure te sukkel om 'n geheime kode te kry, swoeg jy om Lara op 'n lysie te laat spring of 'n dol jeep op die pad te hou.
Die speletjie begin met Lara as 'n tiener wat deur haar mentor touwys gemaak word. Dis nuwelinge se kans om die kontroles te bemeester, maar dit sal veterane frustreer omdat hulle dit nie kan oorslaan nie.
Die eintlike spel vind 'n paar jaar later in Egipte plaas. Lara tel 'n amulet op. Dis 'n fout, want sy maak 'n bose gees wakker en die res van die spel is 'n geskarrel om reg te stel wat sy verbrou het.
Die grafika is vol subtiele beligting en watereffekte, maar Lara loop snaaks en van haar vyande is half onwerklik. Stel jou voor 'n Ninja wat koeëls afweer deur 'n lem in sy hande te laat tol...
Blykbaar is dit die laaste Tomb Raider. Slegte nuus vir bewonderaars, maar hulle sal hopelik meer plesier uit die avontuur as uit die vorige een kry.
Tomorrow Never Dies ***
Twee jaar n die fliek is daar nou die speletjie wat min of meer dieselfde storie het. James Bond moet keer dat die half mal Elliot Carver 'n wêreldoorlog begin.
Die spel het net tien vlakke en jy kan eintlik jou pad deur die eerste vier oopskiet. Die inleiding is vol skop, met tonele uit die fliek en die oorspronklike temalied. Die klank en effekte is ook indrukwekkend, maar die grafika is vrot van die piekselfoute.
Agent 007 het 'n skaflike arsenaal wapens en foefies en hulle hanteer heel goed. Die konsole is net irriterend sensitief. Selfs iets basies soos om Bond oor 'n ding te laat loop sodat hy dit kan optel, kos flink vingerwerk. Dan steek hy ook gereeld agter groot goeters vas en moet jy hom met moeite daar uitwikkel.
Tomorrow Never Dies het heelwat aksie en 'n tikkie Bond-towerkrag, maar met so baie gebreke is dit net vir geswore 007-aanhangers.
UEFA Striker ***
UEFA Striker bied nogal heelwat, maar jy sal lank sit voordat jy weet hoe om die bal uit te gee - laat staan nog 'n doel skop.
Vergeleke met die FIFA-reeks is dit moeilik om die spelers te beheer omdat hulle anders beweeg. Goeie tydsberekening is 'n moet, want jy kan die bal aangee en solank jou volgende beweging bepaal.
Die spel is vinniger as die meeste van sy soort, wat jou 'n gevoel van groter beheer oor jou span en wedstryde gee. Dis 'n verwikkelde stelsel en jy druk byna al die knoppies vir selfs die eenvoudigste maneuver. Bygesê, die oefen-seksie is heel indruwekkend. Dit voer jou na die klub se tuisveld waar jy kan leer om behoorlik aan te gee en hoek- en strafskoppe waar te neem.
Daar is 'n afdeling waarin jy met toertjies en doelwitte nuwe velde en spanne ontsluit. Die grafika kon beter gewees het - dis asof daar meer aandag aan die agtergronde as aan die spelers self bestee is. Die kommentaar is op peil en die byklanke heel realisties.
Die tweespeler-opsie en die eindelose toernooie sal jou lank besig hou. Mits jy net onthou dat aanhouer wen ... - Nazeem Saban
Tiny Tank ***
Van die begin af is dit duidelik dat Tiny Tank nie 'n alledaagse skietspel is nie. Die tenkie leef en het 'n klipharde kwas. Wanneer hy gevra word om die mensdom van nare robotte te red, antwoord hy: "Ek wil eers met my prokureur praat."
Al lyk die held soos 'n speelding, is die sendings doodernstig. Die vyande is almal van metaal gemaak en laat hulle nie sommer voos skiet nie. Die tenkie is egter vinnig en rats en bestuur lekker. Boonop het die spel 'n lekker humorsin: wanneer Tenkie die eerste grootbaas omklits, kry hy 'n cowboy-hoed as 'n bonus.
Tiny Tank kon oornag een van die PlayStation-sterre geword het as dit nie vir een ding was nie. Hy is blykbaar bysiende, want agtergronde smelt op 'n afstand weg en dit maak dat jy soms vyande miskyk. Verder spring daar gedurig 'n paneel in jou gesig op.
Tog 'n koel klein speletjie.
Vandal Hearts II **
Die Japannese was nog altyd lief vir rolspeletjies waar die gevegte 'n klassieke strategiestyl het, maar die res van die wêreld het nog nie juis aan die rare kombinasie gebyt nie.
Die probleem is dat jy sukkel om 'n speletjie soos Vandal Hearts II se bakleistyl te leer verstaan. Dis ook moeilik om daaroor opgewonde te raak. Dis nou tensy jy 'n Japannees is, want dan kom jy uit 'n land waar hulle reken skaak is eintlik 'n bietjie te eenvoudig. Sjoe.
Die storie gaan oor 'n plaasseun wat vir die reg vlug en 'n private weermag opbou om sy eer te herstel. Of so iets. Omdat die karakters as primitiewe klein goetertjies geteken is, voel jy eintlik vere vir wat van hulle word.
Vir elke onderonsie kies jy jou karakters se wapens en towerspreuke. Jy beplan hul skuiwe en druk X. Die blikbrein doen die res. Gaap.
Vandal Hearts het 'n sterk klankbaan van orkesmusiek wat selfs op CD uitgereik is, maar dit help min. Op die ou end voel dit soos 'n grof getekende bordspeletjie - 'n slimme, maar minder pret as skaak. Tensy jy natuurlik 'n Japannees is.
Vib-Ribbon **
As jy nog steeds wonder wat Parappa the Rapper so gewild gemaak het, moenie eens Vib-Ribbon probeer nie. In Parappa moes jy knoppies druk op maat van musiek en hier doen jy dit om oor hindernisse te kom. Daar is vier basiese vorms, maar dit raak moeiliker wanneer hulle saamsmelt. Dan moet jy uitwerk wat die regte kombinasie van knoppies is.
Die aksie vind plaas op 'n krapperige wit streep. Jou mannetjie is 'n hasie wat heel skeeftrek as iets hom tref. Gaan dit sleg, lyk hy later soos 'n sirkel wat deur 'n graadeentjie getrek is. Gaan dit goed, verander hy mettertyd in iets groters.
Die aardigheid van die spel is dat die vorms deur musiek aangedryf word. Daar is 'n nommer of wat op die skyf, maar jy kan Vib-Ribbon ook saam met enige van jou eie musiek-CD's speel.
Vib-Ribbon het al kultusstatus in 'n paar lande, maar dis 'n aardigheid en sal nie in alle smake val nie.
WCW Mayhem **
Ten spyte van growwe tekenwerk voel dié nuwe stoeispel soos die ware Jakob en kry jy hom maklik onder die knie. Sommer gou verniel jy 'n aartsvyand met indrukwekkende gooie wat die skare en kommentators laat wild raak.
Jy kan jou eie stoeier skep, maar die opsies is beperk. Daar is drie liggaamsoorte, 'n paar haarstyle en uitrustings.
Rofstoei is nie vir sissies nie en daar is twaalf tonele buite die kryt waar jy 'n man met vullisdromme of stoele kan bykom. Lekker opheffende vermaak.
WCW Mayhem is 'n skaflike stoeispel met potensiaal - dalk is sy volgende weergawe 'n meneer.
Worms Pinball ***
Die beroemde wurms is terug op 'n spykertafel met genoeg foefies om jou kop te laat draai.
Die groot toets is die beheer en Worms Pinball stel nie teleur nie. Die flappe reageer vinnig en die kantelknop werk goed, terwyl dol klankeffekte losbars as jy groot punte behaal.
Verbasend genoeg het die spel net twee tafels - die ander het 'n raserige tydren-tema. Omdat die spel taamlik staties is, maak hy nogal jou oë moeg en soms verdwyn die bal teen die bont agtergrond.
Probeer hom tog as jy van spykertafels hou.
WWF SmackDown ***
As jy so luister na die stoei-liefhebbers is dit die eerste speletjie wat die gees van hul geliefde sport behoorlik vasvang. Dit hou nie net by die reëls en regte grepe nie, maar het ook van die afwysery en die lae houe wat alles deel van die skouspel is.
Die spel laai vinnig en die kontrole is heel maklik: daar is 'n knoppie vir hardloop, vasklem, die genadeslag en selfs koggelry. Die kuns is om die te ontdek watter kombinasie van die knoppies maak van jou 'n onstuitbare vegter.
Die moeilikste deel is seker om jou eie held te bou, bloot omdat daar so baie opsies is. Jy begin met 'n naam en gesig en kan alles verstel tot by klere, geliefkoosde stoeier en persoonlikheid. As dit te veel raak, kan jy terugval op ou gunstelinge soos Mankind, Undertaker, Chynna en The Rock. Hul getekende weergawes lyk heel realisties al is die buitelyne so blokkerig.
Die toernooi-opsie hou aan selfs al het jy die kampioengordel gebuit sodat jy kan sien hoe lank jy koning kan bly. Gevegte in hokke, stoei sonder reëls en valbylpotte is net 'n paar van die ander keuses.
Die bewegings is flink en oortuigend tot in besonderhede soos lywe wat wip as hulle die mat tref en jy sal waarskynlik te besig wees met die bakleiery om te sien die skare op die agtergrond is met 'n alte los hand geteken.
Nou nie iets vir almal nie, maar 'n kampioen-spel in sy klas.
|