|
Age of Empires II: The Conquerors ****
Om die ekstra pak te installeer, moet jy natuurlik Age of Empires II op jou rekenaar hê. Hy bevat nuwe foefies en vyf nuwe beskawings en drie variasies op die groepspel. Nuwe kaarte en soorte terrein is ook bygewerk.
Die spel is verfyn met dinge soos verkenners, slimmer dorpenaars en die opsie om ouens aan jou kant se troepe te beheer.
Met die ekstra pak het Age of Empires II nou agttien beskawings en hope keuses. Dis beslis die moeite werd. - Mike Green
Aiken's Artifact ***
Die befaamde Ice T sorg vir die stem van agent Cain, die held van die aksiespel. Hy het spesiale magte en is lid van 'n agentskap wat sorg dat sulke magte nie misbruik word nie.
Soos die storie vorder, loop hy hom vas in vyande met ál sterker magte en kan jy jou regmaak vir 'n baie taai einde.
Dis 'n groot speletjie. Vir enkelspelers is daar twintig vlakke en tot tagtig ``talente'' om te ontdek. Groepe kan kies hoeveel van die talente deel van hul spel moet wees. Nuwe talente kan ook op die Internet uitgeruil word.
Jy kyk van bo oor die speelveld uit. Die grafika is vol detail en jy kan inzoem om die aksie beter te sien, maar dis takties beter om so ver moontlik uit te zoem sodat jy soveel moontlik van die spel kan sien.
Die storie is vol kinkels en in die weergawe vir enkelspelers is daar baie dialoog tussen die aksie, wat gewoonlik kort en brutaal is. Die raaisels is nie juis moeilik nie, maar selfs op die laer vlakke is die gevegte ware smoelneukers. Net een verkeerde beweging en dis tiekets vir jou agent. Moet dus nie vergeet om gereeld te bêre nie.
Die lang laaityd kan frustrerend raak, veral as Cain vir die soveelste keer in die hek geduik het. Maar as jy vasbyt, of hou van 'n goeie storie en iets wat 'n bietjie anders is, is Aiken's Artifact die kopie werd. - Mike Green
The Biggest Names the Best Games 4 ***
Die pak bestaan uit ses speletjies wat die laaste jaar of twee een-een uitgereik is. Hulle is goed gekies: daar is gehalte en genoeg verskeidenheid.
* Dungeon Keeper 2 is 'n prettige strategiespel waarin jy as die bewaarder 'n kelder moet bou, bestuur en beskerm teen die adellikes van die kontrei, skattejagters en ander bewaarders.
* System Shock 2 is aksie en avontuur en 'n uitstekende spel met 'n eerstepersoon-aansig. Dit gaan verder as baie soortgelyke pogings, want daar is drie karakters met verskillende vaardighede en talente wat kan verbeter namate jy vorder.
* Toe hy uitgekom het, is Cricket World Cup 1999 beskou as die beste rekenaarweergawe van die sport. Al die spanne van daardie jaar se Wêreldbekertoernooi is in aksie.
* In die vlugsimulasie Jane's World War II Fighters stuur jy een van sewe soorte vegvliegtuie wat teen die einde van die oorlog in die lugoorlog bo Wes-Europa gebruik is. Daar is hope inligting oor die vliegtuie, top-vlieëniers en geskiedkundige oomblike.
* Sports Car GT het meer as vyftig motors waaruit jy kan kies. Jy verdien geld tydens wedrenne en kan daarmee jou wiele laat opkikker.
* Wing Commander Prophecy is 'n ruimte-avontuur met 'n puik storie vol aksie en uitstekende grafika.
Dié boks is beslis die geld werd en jy sal nooit jammer wees jy het hom aangeskaf nie. - Mike Green
Command & Conquer: Tiberian Sun ****
Lank gewag vir die derde deel van die gewilde Command and Conquer-reeks, maar nou is hy hier.
Die basiese spel het dieselfde gebly, maar die ontwerpers het die tekeninge, kontrole en blikbrein goed opgeknap.
Dis weer tyd vir die goeie ouens van GDI om met die geslepe broeders van NOD te baklei oor die energiebron op 'n stowwerige planeet. Sonder dié doepa kan niemand basisse of wapens bou nie.
Jy kan kies as watter span jy wil speel. Albei het hul eie storie en kom selfs op aparte skywe vir groepspel. Die vyand is veel slimmer as tevore en op die moeilike vlakke is taktiek baie belangrik.
Daar is 'n magdom wapens, maar die meeste van hulle is tipies vir strategiespeletjies. Danksy 'n isometriese perspektief lyk alles na ware 3D en oor die landskappe en bewegins kan niemand kla nie.
Tiberian Sun is 'n goed geboude nuweling en beslis 'n kyk werd. - Dewald Spies
Compton's Interactive Bible ***
Eindelik is hier die ideale program vir 'n studieleier wat 'n les moet voorberei of vinnig iets in die Bybel moet naslaan.
Bybel-sagteware is daar baie, maar die een het heelwat ekstras en lyk boonop mooi. Die geanimeerde knoppies maak 'n goeie eerste indruk en daar is hope netjiese kaarte, foto's en kort filmpies.
Wat seker die meeste gebruik sal word, is die soek-kassie waar jy 'n woord of frase in die nuwe internasionale vertaling van die Bybel kan opsoek. Nog 'n bonus is 'n Netskakel wat lei na meer inligting en geselskamers.
Studiegroepleiers kan lekker aanbiedings met klank en beeld skep, of 'n multimedia-vertoning saamstel en terugsit terwyl die rekenaar alles doen.
Beslis 'n opsie vir mense wat ernstig is oor hul Bybelstudie. - André Cooper
Command & Conquer: Red Alert 2 ****
Die een gaan beslis net so gewild wees soos sy voorganger, wat strategie-speletjies tot nuwe hoogtes gevoer het.
Die storie speel hom af in 'n ander tyd as ons s'n, met die Russe en Geallieerdes wat oorlog maak. Die keer staan die Russe reg om Amerika oor te neem en jy kan kies of jy die Yanks wil verdedig of aanval.
Die slagvelde is 'n reeks kaarte waarop jy boustowwe moet vind vir fabrieke waarin wapens gemaak kan word. Die Geallieerdes maak meestal staat op spoed en verrassings terwyl die Russe hou van massa-aanvalle en groter slaankrag.
Die reëls is maklik en daar is 'n speelgids as jy vasbrand. Die spel loop vinnig en verwoed. Jy skiet en verdedig vir 'n vale. Omdat dit nie 'n beurtspel nie, is elke minuut kosbaar.
Die enkelspeler kan 13 veldtogte vir elke kant deurwerk en daar is 'n veg-opsie vir 'n vinnige potjie teen die rekenaar. Verder is daar twee CD's, een vir elke weermag, sodat twee mense op gekoppelde rekenaars teen mekaar kan speel. Te lekker - en dan het jy ook nie die jongste 3D-grafikakaart nodig nie.
Red Alert 2 is goed gemaak, gebalanseerd, 'n uitdaging en baie verslawend. - Mike Green
Cricket 2000 ***
Dis weer tyd vir internasionale eendaagse wedstryde met al die spanne wat aan die vorige Wêreldbeker deelgeneem het. Die nuutjies is aandkrieket en vyf nuwe bane, onder meer Sydney en die Wanderers.
Cricket 2000 bied realistiese 3D-agtergronde, heel menslike spelers en kommentaar deur Richie Benaud en David Gower.
Jy kan die lang pad loop met die volle Wêreldbeker, eers by die Ronde van Ses begin of net een wedstryd speel. En as jy regtig gou wil klaar wees, kolf eerste sonder dat jy in die nette geoefen het. Daar is 'n merker vir die bouler en kolwer, maar dis nogtans vrek moeilik om die bal perfek raak te slaan.
Die boulwerk is effens makliker en jy leer gou hoe om jou spoed of rigting aan te pas. Jy kan nie die veldwerkers beheer nie, wat gaaf is totdat jy ontdek hulle duik nie agter balle aan nie, dankie.
Cricket 2000 is omtrent so goed as wat krieket op rekenaar kan kom. Of dit genoeg is, moet jy maar die derde skeidsregter vra.
DarkStone ****
Vir aanhangers van Diablo sal baie dinge in DarkStone bekend lyk, maar dié nuwe speletjie het soveel ekstras dat jy hom nie 'n kloon kan noem nie.
Jy moet 'n land red van 'n bose priester wat homself in 'n draak kan verander. Om dit te doen, moet jy sewe kristalle vind wat saam 'n tydsleutel vorm. Die spel begin met een van agt tonele en is dus nooit dieselfde nie, wat beteken jy kan hom oor en oor speel.
Iets unieks is dat jy twee karakters kan laat saamwerk. Dink net: jy pak 'n klomp geraamtes of dodelike bye tegelyk met 'n vegter wat sy swaard inspan en 'n towenaar wat met towerspreuke toeslaan. Groot pret.
In baie rolspeletjies loop jy oor eindeloose landskappe om iets kleins te gaan doen soos om vir jou helde kos te koop. Darkstone los die probleem op met 'n stukkie tydreis en kompakte tonele. So staan jou tuisdorp se winkels netjies in 'n ry en kan jy vinnig nuwe wapens, kos en towerspreuke koop. Daar is selfs 'n bank waar jy jou swaar goudstukke kan deponeer.
DarkStone sluk 'n groot stuk van jou hardeskyf in en werk nie sonder 'n 3D-kaart nie, maar die beloning is seepgladde aksie en weelderige grafika. Nog 'n oulike bonus is dat jy die kamerahoeke vinnig met die nommertoetse kan wissel - ideaal wanneer 'n vyand jou van agter bekruip.
Die storie is niks nuuts nie, maar Darkstone se kontroles kan rolspeletjies vir altyd verander.
Fun with Facts ***
DIE meeste mense weet New York se bynaam is die Big Apple. Maar weet jy waar die naam vandaan kom? As jy weet, is dit twee punte vir jou op die telbord. Jy kan ook hulp vra en dan kry jy 'n snaakse leidraad, maar net een punt vir die regte antwoord.
'n Vasvra bly 'n lekker ding en dié CD-ROM is gelaai met duisende vrae wat onder ses onderwerpe ingedeel is. Jy kies uit drie antwoorde en kry 'n stukkie agtergrond by die reaksie.
Van die vrae is moeilik, maar jy hoef nie 'n Einstein te wees om 'n ordentlike telling te behaal nie.
Die ontwerp is baie eenvoudig, maar dis 'n kleinigheid. Dis wel jammer dat daar nie die een of ander doelwit is nie. Jy kan speel totdat jou brein vasbrand of die vrae opraak. Hopelik het die volgende weergawe 'n soort wedstrydjie ingebou.
Metal Gear Solid ****
Een van die gewildste videospeletjies is eindelik op rekenaar te kry en met sy verbeterde klank en grafika het hy sommer oornag kultusstatus bereik.
Jy speel 'n agent wat gyselaars moet gaan red en terroriste uit 'n kernaanleg moet verdryf. Die kuns is om nie met die vinger op die sneller in te storm nie, maar ongesiens rond te sluip en net te skiet as jy nie anders kan nie.
Die grafika is vol fyn detail. Trap byvoorbeeld in water en een van die wagte volg dalk net jou nat spore.
Die kontrole is alles op die toetsbord, eenvoudig en maklik om te bemeester. Nietemin is dit wys om eers die oefensending aan te durf. Só leer jy wat jou agent alles kan doen en dit kan later jou bas red in 'n taai situasie.
Metal Gear Solid is pure plesier. Boonop loop hy glad op 'n nederige Pentium II, wat jy nie van al sy mededingers kan sê nie. - Dewald Spies
Microsoft Plus! Game Pack **
Die hoofitem in die stel is 'n paar kaartspeletjies van 'n gewone patience tot ou gunstelinge soos cribbage. Die grafika is baie basies en die waarheid is dat jy beter gratis weergawes op die Internet kan kry.
Dan is daar tien raaisels. Twee of drie is heel verslawend, maar die ander so maklik dat hulle eintlik net goed is vir 'n blitspotjie terwyl die baas uit die kantoor is.
Die derde en beste item is Pandora's Box, 'n interaktiewe raaiselspel deur die man wat die Rubicube ontwerp het. Maar dis net 'n toetsmodel en jy kan nie bêre nie. Dit raak gou frustrerend om elke keer voor te begin.
Eintlik behoort die Plus! gratis saam met Windows weggegee te word.
Need for Speed Porsche 2000 ****
Die jongste titel in die Need for Speed-reeks is iets anders. Jy kry die kans om te ry in die Porsche, die wêreld se beroemdste sportmotor. Wat meer is, jy begin in die vroeë vyftigs met die ou model en jy moet 'n paar wedrenne voltooi om by die nuwer motors uit te kom. Op die ou end kies jy uit nie minder nie as tagtig motors.
Die "Factory driving"-afdeling is die oorspronklikste van die nuwighede. Daar moet jy 'n reeks take afhandel om na die volgende vlak op te skuif. Die vaardighede wat jy hier leer, help baie in die "Porsche Evolution"-afdeling waar jy teen genadelose teenstanders jaag.
Die grafika is ongelooflik en jy sal nog in iets vasry omdat jy jou sit en verkyk aan die mooi agtergronde. Die bane en omgewings is naatloos en die motors is tot in fyn besonderhede geteken. Jy kan uit verskillende hoeke kyk terwyl jy ry en dit maak die wedrenne nog opwindender.
Daar is 'n terugspeel-aksie wat jou kans gee om uit jou foute te leer en die spyskaart is gelaai met opsies. Die klank en veral die enjin-geluide is puik.
'n Uitstekende spel wat jou ure lank voor die rekenaar vasgenael sal hou. - Nazeem Saban
Police Quest: S.W.A.T. 2 ***
Die naam is genoeg om aksieslawe se hande te laat bewe, maar die speletjie is nie heeltemal wat jy verwag nie.
Jy kan die polisie of terroriste wees. Albei het vyftien sendings wat op ware sake van Los Angeles se polisie gegrond is. Jy kan jou manne tot die tande bewapen, maar hulle sal selde iets gevaarlikers as traangas nodig hê. 'n Sending is suksesvol as dit min kos en niemand doodgaan nie. 'n Goeie sending beteken jou base is tevrede en sny nie jou begroting nie. Maak jy lelik droog, moet jy aftree.
Die speletjie word van bo gespeel en die mannetjies is so klein dat jy soms nie kan uitmaak wie is wat nie. Aan die kontrole moet jy eers gewoond raak en die polisie roer nie sonder bevele nie. Al word 'n maat langs hom flenters geskiet, sal 'n polisieman eers help as jy so sê.
S.W.A.T.2 is so lewensgetrou dat LA se polisie dit glo vir opleiding wil gebruik. Maar dis juis die realisme wat dit effens vervelig maak, tensy jy versot is op strategie.
Shogun: Total War ****
Die toneel is Japan in die sestiende eeu en die land is verskeur, met sewe stamleiers wat veg om die eerste shogun te word. Jy is een van hulle en jy gebruik diplomasie, spionasie en fyn beplande veldslae om jou teenstanders te klop.
Shogun is gegrond op klassieke oorlogspeletjies - die soort wat met mini-soldaatjies op replikas van slagvelde gespeel word - maar dis beslis nie droog en vervelig nie. Net kwaai aksieslawe sal reken dis te stadig.
Jou beurt begin elke keer met 'n landkaart waarop jy jou magte soos skaakstukke rondskuif. Dan is dit oor na werklike tyd vir die oorlog op volle 3D-landskappe met indruwekkende tekenwerk.
Die gevegte is baie formeel met die soorte troepe in vaste formasies opgestel. Die soldate is klein en eenvoudig geskets, maar die voordeel daarvan is dat hulle seepglad en vinnig beweeg.
Die kontrole leer jy gou en selfs die moeilikste strategie kan jy met 'n paar klieke uitvoer. Die terrein het 'n sleutelrol in die oorlog - soldate kan in woude wegkruip en die vyand verras en dis voordelig om jouself op heuwels in te grawe.
Shogun voer die klassieke oorlogstrategiespel tot nuwe hoogtes en doen dit met styl. - Dewald Spies
The Sims ***
Almal praat oor die nuwe speletjie deur die makers van Sim City, want dis seker die naaste ding nog aan die skynwêrelde waarvan jy in wetenskapfiksie lees. In The Sims skep jy 'n familie en beheer hul lewens. Dis asof jy regisseur van jou eie sepie is, met mense wat in 'n kits trou of skei, stry en baklei, sommer oornag bevorder word. En skielik uit die storie kan verdwyn.
Die lewendige Sims-Netblad voer dit verder. Jy kan'n foto-album stoor, ander families bekyk en alles aflaai van nuwe meubels tot ster-gesigte vir jou karakters. Die gestoorde karakters duik op in elke nuwe spel. Ongelooflik.
Eers bou jy Sims deur te besluit hoe hulle moet lyk en wat hul geaardhede moet wees, Dan skep jy vir hulle 'n huis. Jy moet sorg dit pas by hulle, want Sims raak omgekrap as hulle nie tuis voel nie. Jou Sim moet werk kry, vriende maak en dalk trou. Kinders is ook 'n opsie. Hulle bly kind en die grootmense raak nie oud nie.
Sims kan nie ander huise besoek nie - vriende kom na hulle - of iewers gaan rondloop nie en jy volg hulle nie werk toe nie. Hulle praat 'n brabbeltaal en prentjies bo hul koppe gee jou 'n idee waaroor die geklets gaan.
Hoe kwaai jy hulle wil beheer, is jou keuse. Met party verstellings moet jy selfs jou Sim toilet toe stuur as jy sien sy blaas is vol, anders kry hy 'n glipsie op die mat.
Dit klink verstommend en dit is, buiten 'n paar vrot kolle. Die spel is vol foute en dit kos 'n las van 1.8 MB om die meeste van hulle reg te stel. Maar selfs op 'n taamlik kragtige rekenaar vries die simmies dan nog soms vas.
Nes in Sim City kan jy hier vir ewig speel. Daar is geen wen of verloor nie. Juis dit kan die aksie later onbenullig laat voel: stuur jou Sim stort toe, sê hy moet eet en sy bed opmaak voordat hy werk toe gaan...
The Sims is 'n tegniese meesterstuk en beslis 'n moet as dit jou soort pret is. Hopelik werk sy vervaardigers nog strykdeur aan daardie programfoute.
Superbike 2001 ***
EA Sports se jongste sal jou voor die rekenaar vasgenael hou. Elke deel van die spel, ook die laaityd, is verbeter.
Die inleiding is 'n mengsel van goeie grafika en video en daarna maak 'n eenvoudige spyskaart oop. Daar is verskeie opsies van oefenrondtes tot 'n wêreldreeks. Vir elke wedren kies jy jou eie motorfiets, jaer, weer en kompetisie en kan jy jou wiele fyn instel.
Die fietse, bane en agtergronde is vlymskerp geteken en vloei glad en daar is 'n vriendelike handleiding as jy vasbrand. Aan die begin beheer die rekenaar 90 persent jou fiets en namate jy vorder, kan jy die hulp-ikone een vir een afskakel.
Die ongelukke is skouspelagtig en jy vlieg maklik meters ver as jy nie jou remme goed inspan nie. Met die volle botsing-opsie sien jy ook jou jaer weer op sy fiets klim en koes-koes vir die ander ryers weer op die baan kom.
Les bes is daar 'n Net/koppelstelsel vir tot ses spelers. - Nazeem Saban
System Shock 2 ****
Noem dit sommer die denkende mens se Quake. System Shock 2 is 'n skopskieter in die eerste persoon, met 'n volle 3D-landskap. Maar dis ook meer, want daar is rolle om te speel.
Die storie begin wanneer jy op die ruimteskip von Braun wakker word uit 'n diep slaap. Almal is dood en die skip se slim hoofrekenaar, Xerxes, wil jou ook afmaai. Jy moet probeer vasstel wat gebeur het, Xerxes buite aksie stel en beheer van die skip oorneem.
Jy kan drie soorte karakters speel. Die "hacker" gebruik sy tegniese kennis, die marinier baklei sy pad oop en die OSA-rekruut gebruik psigiese magte. Later kan jy deur speisale inplantings 'n kombinasie van die drie soorte word.
Die spel is ongelooflik goed ontwerp en baie spannend, met Xerxes wat jou heeltyd dophou en met jou kop smokkel dat dit 'n naarheid is.
'n Ander bonus is dat jy nie twintig vingers of twee toetsborde het om die kontrole te bemeester nie. Hulle is eenvoudig en doeltreffend.
Ongelukkig wemel die spel van die programfoute. Party van hulle laat jou rekenaar vasslaan, maar die vervaardigers beweer dit gebeur net op sekere stelsels. Daar is darem 'n las ("patch") wat jy van die Net kan aflaai om die foute uit te stryk.
Die eerste System Shock was die inspirasie vir treffers soos Half Life en sy vervolg voer alles 'n stap verder. Dis beslis 'n baanbreker. - Dewald Spies
Theme Park World ***
Met die intrapslag betower die helder, lewendige prentjies jou al. Dan begin 'n geesdriftige gids jou vertel hoe om te speel - en dit klink sommer maklik.
Die eenvoudige idee is dat jy 'n pretpark uit niks bou en dit bestuur. Elke dingetjie kan vertel word, tot by hoeveel vet daar in jou stalletjies se burgers moet wees.
Jou besoekers se gevoelens wys in seepbelle bo hul koppe. Groen gesigte beteken die toilette is vuil of die wipkarretjie ry te woes. Sien jy net glimlagge, is jou park 'n wenner en gaan jy dalk 'n goue sleutel wen wat jou toegang tot nuwe parke gee.
Een ongelooflike foefie is dat jy self die karretjies in jou park kan ry. Terwyl jy dit doen, sien jy jou park soos hy op daardie oomblik lyk, kompleet met mense wat rondloop.
Die spel se Netblad bied aflaaibare ekstras en kletsgroepe en jy kan ander mense se parke besoek of joue op die Net "publiseer".
Te oulik, maar die ding is dat jy in Theme Park World bloot parke bou. Vorder jy, kry jy net nuwe parke om uit te kies. Dis al. Nogtans is dit verslawend as jy bouspeletjies geniet.
Ultimate Motorcycle Series ***
Sulke boksstelle is gemik op spelers met ou rekenaars en Ultimate Motorcycle Series slaag in sy doel met drie gewese topverkopers op een skyf. Maar dis nogal baie geld vir net drie speletjies - Road Rash, Moto Racer 2 en Superbike World Championship - as jy dink dat party sulke bokse ses titels bevat.
Elke speletjie het 'n handleiding op die skyf as 'n tekslegger wat jy kan uitdruk. Dis nogal lastig as jy iets wil opsoek, maar daar is geen probleme met installering nie en selfs met 'n beskeie 166 MHz se kuberkrag loop dinge vlot.
Superbike World Championship is die nuutste van die speletjies, maar selfs hy lyk outyds as jy al die grafika in EA se jongste nuwe poging, Superbike 2001, beleef het. Die spel is nietemin pret al is die kontrole nukkerig en al kos dit geduld en vaardigheid om die geruite vlag te kry.
Road Rash is die lekkerste van die lot met ryers wat teen die horlosie en teen mekaar meeding. Die klomp kom mekaar met kettings en ander dodelike wapens by. Grafies is dit die swakste van die drietal en dit werk nie met 3D-kaarte nie, wat 'n jammerte is.
Ultimate Motorcycle Series is 'n gawe geskenk vir iemand met 'n bejaarde rekenaar of vir 'n jong speler, maar ernstige motorfiets-slawe sal liewer verder soek. - Carl Green
|