The Mummy **
As jy lus het om in donker, klam katakombes en grafte rond te snuffel, sal The Mummy jou vingers tot laatnag op die knoppies hou. Dis gegrond op die fliek en gaan oor die rebelse Rick O'Connell wat sy pad oopveg en oopdink deur 'n onderwêreld van vertrekke wat vervuil is van die valstrikke.
Langs die pad maak hy antieke kuns en sleutels bymekaar. Hy is effens lomp, maar hy moet sy storie ken met gewaagde spronge, raaisels met hefbome en boonop twaalf taai gevegte.
Natuurlik is daar ook gevare soos versteekte speke in die mure, rotsstortings en honger kewers.
Spring gerus in gate - party is vol skatte, maar in ander sal jy jou jis sien. Verder is daar 'n magdom van zombies wat met dinamiet, fakkels en kapmesse vertroetel moet word.
Lara croft het Egipte eintlik ``gedoen'' en daarom sal gesoute aksievrate dalk reken The Mummy is voorspelbaar. Maar ná 'n paar maklike vlakke raak dinge regtig interessant.
Dis lastig dat jy net tussen vlakke jou spel kan stoor, want die kans is skraal dat jy lewend uit 'n dodelike put kom. Dit beteken jy speel party dele oor en oor.
Nogtans is dit pret om te kyk of jou vingers en reflekse vinnig genoeg is vir The Mummy se uitdagings. - Sally Green

Attack Pack ***
Novalogic maak al lank goeie oorlog-sims en die Attack Pack bevat die topverkopers F-22 Lightning 3 en Armored Fist 3, plus die nuwer Delta Force. Die speletjies word in een boks verkoop met 'n handleiding wat lyk soos 'n swart-en-wit opsomming van die oorspronklike.
Al drie installeer maklik en trek so min blikbrein-krag dat selfs mense met stadige rekenaars die beste uit die speletjies kan haal. Lightning 3 is beslis die grootste pret. Jy kry kans om rond te rits in 'n vegvliegtuig wat so nuut is dat hy nog nie eens bemark word nie. Hy kan selfs 'n kernbom dra wat hele divisies soldate kan afmaai. Die grafika is puik, met dinamiese beligting en volle weer-effekte. Dis te lekker om deur 'n donderstorm te vlieg met die reën wat op jou kajuit neerkletter.
In Armored Fist 3 beheer jy 'n moderne Amerikaanse tenk. Dis net so boeiend, maar ongelukkig nie versoenbaar met 3D-kaarte nie. Die sendings sluit werklike gevegte soos die Golfoorlog in en die landskappe is baie realisties. Dis beslis 'n plesier om in 'n paar ton staal deur geboue te ploeg terwyl die vyand skarrel om uit jou pad te bly.
Delta Force, die nuutste van die drie, is nie op dieselfde peil nie. Jy lei 'n taakmag deur sendings in probleem-gebiede wat dalk môre se koerant-opskrifte kan word. Dis 'n slim idee, maar dit word geknou deur 'n lamsakkige grafiese enjin. Daar is nogtans baie fyn detail en jy kan jou bewapen met enigiets van semi-outomatiese wapens tot nagbrille.
Delta Force se raamspoed is stadig en bederf die pret, maar sy twee stalmaats maak Attack Pack 'n skaflike keuse vir oorlog-liefhebbers. - Carl Green

Nog PlayStation  |  Nog Rekenaar  |  Kopiereg Huisgenoot  |  Webmeester Pieter van der Lugt