MIC - Give Your Love ***
In hul dekade saam het die gospelgroep MIC meer as 50 000 CD's net in Suid-Afrika verkoop, heelparty pryse gewen en die wêreld vol getoer. Nou het hulle 'n nuwe voorsanger en 'n nuwe klank wat meer hip-hop as house is. Die vervaardiging is weer tops, maar selfs die talentvolle span trap soms in 'n hip-hop-slaggat.

Say Colour - Seeing is Believing ***
Mikael Vilkas was 'n TV-aanbieder en musiekregisseur, Tobias Jeanson het musiek geswot en Cales Jax het ontdek hy kan sing toe hy 'n karaoke-wedstryd gewen het. Die Sweedse trio maak van die soul-pop wat deesdae die trefferlyste oorheers. Maar miskien danksy Tobias, wat meer as drie akkoorde ken, het Say Colour se wysies iets om die lyf.

Savage Garden - Affirmation **
Verlede jaar se album is heruitgereik met 'n bonus-konsertskyf. As jy so luister na die gillende jong meisies, weet die Garden wie hul bewonderaars is en hoe om hulle te bevredig.

Fastball - The Harsh Light of Day **
Miles Zuniga, Tony Scalzo en Joe Shuffield kom uit Austin in Texas. Hulle het 'n Grammy-benoeming gekry vir hul debuut, All the Pain Money Can Buy, maar dit was drie jaar gelede en kenners het al begin dink hulle was 'n eendagvliegie. Die nuwe plaat bewys glo die teendeel. Dit het 'n paar sappige refreine en prikkelende lirieke, maar klink taamlik outyds.

Toxic Shame - Full Circle **
Ook so met dié ouens, wat blykbaar ongesond baie na rock uit die vroeë tagtigs luister. Always Outa Reach kon op een van Robert Palmer se oues gepryk het en Sittin' klink gevaarlik baie soos iets deur Toto of Yes. Toxic het kennelik talent, maar hoekom gebruik hulle dit om middelmatigheid na te boots?

Feeder - Echo Park **
Nog geraaspop deur die Londense drietal. Selfs die hupse wysies klink oorbekend en soms is die lirieke besonder laf: "He's got a brand new car, looks like a Jaguar". 'n Mens sou dink rock-sterre weet goed hoe 'n Jag lyk...







Kopiereg Huisgenoot  |  Webmeester Pieter van der Lugt