Art of War **
Aksie. 2000, 117 min. Regie: Christian Duguay. Met: Wesley Snipes, Anne Archer, Maury Chaykin.
China staan reg om 'n VN-ooreenkoms te onderteken wat sy deure vir Westerse handel sal oopgooi. Daar is 'n paar mense wat wil keer dat dit gebeur en ons held moet hulle uitskakel. Dis die kyk werd vir ou superkoel Wesley, maar die aksie word bederf deur rukkerige kamerawerk en die storie is dunnerig.

Nutty Professor 2: The Klumps **
Komedie. 2000, 107 min. Regie: Peter Segal. Met: Eddie Murphy, Janet Jackson.
Binne-in die groot prof is 'n nare, maer man wat sukkel om uit te breek. Dan kry hy dit reg en probeer sy gesette gasheer se vriendin en uitvindsel steel. Eddie speel 'n horde rolle - miskien ook Janet Jackson s'n. Dis toilethumor, maar ons het mos almal soms 'n behoefte.

Rocky and Bullwinkle *
Avontuur. 2000, 88 min. Regie: Des McAnuff. Met: Rene Russo, Jason Alexander, Randy Quaid, Robert de Niro, Kenan Thompson, Piper Perabo.
Rocky en sy vlieënde maat beland in die regte wêreld waar hulle teen hul ou aartsvyande moet baklei. Dis 'n stuk nostalgie vir Amerikaners wat oud genoeg is om dié strokiesreeks uit die sestigs te onthou. En selfs hulle sal dalk toegee dis 'n trekkerige en onsnaakse fliek.

Kopiereg Huisgenoot  |  Webmeester Pieter van der Lugt