|
MARLEY SHELTON
Tot dusver het Marley Shelton meestal opgeduik in TV-flieks, maar sy het darem ook 'n bietjie grootskerm-aksie beleef. Op veertien was sy in Grand Canyon en in Nixon het sy die president se dogter gespeel. Pleasantville en Never Been Kissed het nie juis haar talent getoets nie, maar nou kry sy haar groot kans met 'n hoofrol in Sugar and Spice.
Die fliek is gegrond op die ware storie van 'n rasieleidster wat saam met haar vriende 'n bank wil beroof. Marley se mede-sterre is Mena Suvari en James Marsden.
Sy het in Eagle Rock in Kalifornië grootgeword. Haar ma, Carol, is 'n gewese sangeres en 'n onderwyser. Haar pa, Christopher, is 'n heel bekende filmregisseur. Haar ouers het in amateur-opvoerings gespeel, maar Marley was aan die begin nie lus om dit ook te probeer nie. Sy wou net rasieleidster wees en soveel moontlik in winkels werk om sakgeld op te gaar.
Haar matriekdans was baie romanties. Nicholas Brendon van Buffy-faam was haar maat. Hy het vir haar honderd rose gekoop, 'n aandpak gedra en haar in 'n Mustang met 'n afslaankap gaan oplaai. "Hy het alles presies reg gedoen," vertel Marley.
Dit pla haar min dat sy met die nuwe fliek liggies beroemd kan raak. Sy tob ook nooit oor hoe sy lyk nie, maar sy begin iets vreemds oor haar oë agtergekom. "Ek het myself op film bekyk en besef my oë is nogal... groot. As ek hulle te ver kant toe draai, lyk dit asof ek besete is."
|